Twee vermeende rowers doodgeskiet

(Foto: SAPD/Twitter)

Die polisie het Dinsdag ʼn deurbraak gemaak en ʼn gewapende rooftog aan die Wes-Rand gefnuik.

Kol. Lungelo Dlamini, woordvoerder van die polisie, het gesê twee vermeende gewapende rowers is Dinsdagoggend omstreeks 09:00 in Main Reefweg doodgeskiet, een is gewond en drie is in hegtenis geneem. “Beamptes het beslag gelê op vier vuurwapens en twee motors, ʼn BMW en ʼn Opel. Een van die motors is vermoedelik in Soweto gekaap.”

Beamptes het toegeslaan op die verdagtes wat in die twee motors gery het. Die verdagtes het vermoedelik saamgesweer om ʼn gewapende roof te pleeg. “ʼn Jaagtog en ʼn skietery het gevolg en die verdagtes is aangekeer. Geen polisiebeampte is tydens die operasie beseer nie,” het Dlamini bygevoeg.

Die polisie ondervra tans die verdagtes wat in hegtenis geneem is, omdat hulle vermoedelik deel is van ʼn bende wat by ernstige en gewelddadige misdade betrek word. “Een van die verdagtes is onder polisiebewaking by die hospitaal. Hulle staan tereg op aanklag van sameswering om ʼn misdaad te pleeg, die besit van ʼn gesteelde motor en die besit van ongelisensieerde vuurwapens. Hulle sal eersdaags in die hof verskyn.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

RATEL ·

Baie geluk aan die SAPD! Wens jul alle sterkte toe om die hool om te draai en beheer te neem

Wielspore ·

Ek rig ‘n versoek aan die SAP om nog sulke optredes uit te voer!

Michelle ·

Fantasties werk vir die eenheid baie dankie ons is opreg trots dat julle die verskil maak.

Dirk ·

Stem saam, skiet rowers om dood te skiet, maar slegs uit noodweer en dan moet n moord dossier steeds teen die polisie geopen word net soos dit die geval is wanneer ek of jy rowers doodskiet. Wat geld vir jou en my moet ook geld vir die polisie, eintlik meer so vir die polisie wie meer daartoe toegerus is om te arresteer as om dood te skiet. Gewone mense wat rowers doodskiet word soos misdadigers behandel, word die polisie wat rowers doodskiet ook soos misdadigers behandel?ek hoop so, want wat geld vir my en jou moet meer so geld vir diegene wat beter toegerus is. Die punt is dat dit tyd geraak het dat belastingbetalers aandring op meer professionele polisieering en op wetgewing wat noodweer meer goedgesind is. Tans vernietig nie net rowers gewone mense se lewens nie, maar ook wetgewing, wetstoepassers en wetstoepassing. Rowers sal hulle rieme reeds styf loop teen gewone mense indien wetgewing en polisieering gewone mense se reg op noodweer en selfverdediging hoer ag as die regte van rowers.

Regs! ·

Mooi so! Stuur al die rowers op so ‘n manier na die plek waar hulle hoort!!

GP ·

Skietery plaasgevind en wapens gevind. Bestaan daar nog so iets soos poging tot moord? Hierdie aanklagtes maak vir my nooit sin nie en wonder altyd hoe akkuraat misdaad statistieke dan is.

Op ander trand. Kry uitlanders hier uit en maak die grense toe. Botswana kry dit reg hoekom nie ons ook nie. Baie misdaad teenoor baie rasse sal verminder. Hou op werk gee aan onwettige emigrante, ons help misdaad aan om dit te doen en is self skuldig. Dit lok net meer van hulle.

Hanlie ·

Mooi so SAPD. Nou wonder ek net, gaan hulle nou borgtog toegestaan word en net weer verdwyn? Na die polisie se harde werk…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.