Twee verongeluk met lyk in kattebak

Wat eers soos ʼn gewone motorongeluk gelyk het, het gou ʼn onheilspellende prentjie geskets. (Argieffoto ter illustrasie: Hansie Linde)

Die lyk van ʼn 33-jarige vrou was nog in die kattebak van ʼn motor wat Dinsdag in ʼn noodlottige ongeluk met ʼn vragmotor op die R23 naby Standerton in Mpumalanga betrokke was.

Twee insittendes van dié motor, van wie een die vrou in die kattebak se kêrel (31), is in die ongeluk dood terwyl ʼn derde persoon ernstig beseer en in die hospitaal opgeneem is.

Dié drie word daarvan verdink dat hulle die vrou se liggaam in die kattebak van die motor gestop het en wou wegsteek nadat haar kêrel haar glo vermoor het.

Die ongeluk het egter plaasgevind voordat hulle van die liggaam ontslae kon raak.

Volgens brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, het die voorval aanvanklik soos ʼn gewone ongeluk gelyk, maar by nadere ondersoek is ʼn heel ander prentjie geskets.

Mohlala sê ʼn voorlopige ondersoek dui daarop dat twee paartjies saam by ʼn woonstel gekuier het toe een van die paartjies stry gekry het.

“Die 31-jarige man het sy 33-jarige meisie glo toe met ʼn mes doodgesteek.

“Die ander paartjie het hom na bewering gehelp om haar liggaam in die motor te laai met die doel om haar lyk te verberg.”

Die drie het egter teen ʼn vragmotor gebots, wat die lewe van die kêrel en ʼn vrou geëis het. Die derde persoon, ʼn man, word tans in die Standerton-staatshospitaal behandel.

Dit is nie duidelik of die bestuurder van die vragmotor enige beserings opgedoen het nie.

Die polisie ondersoek nou sake van moord en strafbare manslag.

Mohlala het nie gesê wanneer die oorlewende persoon ontslaan sal word en of hy al van enigiets aangekla is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

madels ·

So sal alles wat in die duister gedoen word, in die lig kom. Die kêrel het vinnig geboet vir wat hy gedoen het en nou is hy in n baie warm plek.

Hasie ·

Kan die man nie aangekla word vir medepligtig aan moorde en verberging van lyk nie?Vra maar net…

Belinda ·

oopsie…
wel atleast het karma vinnig die rol hier gespeel…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.