Twee vervolg oor ‘bedrog’ by staatsprokureur

(Argieffoto)

Die spesiale ondersoekeenheid (SOE) het die vervolging van die voormalige waarnemende hoof van die kantoor van die staatsprokureur in Mthatha, Sthembele Tshitshi, en ʼn Oos-Kaapse prokureur, Xolani Polo, verwelkom.

Die twee het Donderdag in die Mthatha-landdroshof verskyn op aanklagte van bedrog, of alternatiewelik diefstal, ten bedrae van R331 000. Hulle staan ook tereg op ʼn aanklag van die oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur.

Kaizer Kganyago, woordvoerder van die SOE, sê Tshitshi en Polo is vrygelaat op borgtog van R5 000 elk. Die saak teen hulle is tot Mei vir verdere ondersoek uitgestel.

Die twee se vervolging volg op die SOE se aanbeveling aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) verlede jaar nadat sy ondersoek na korrupsie en wanbestuur by die kantoor van die staatsprokureur afgehandel is.

Die ondersoek is ingevolge ʼn proklamasie van die president goedgekeur.

Kganyago sê die ondersoek het veral gekyk na die regsdienste wat onderskeidelik namens die departement van gesondheid in Gauteng en die Oos-Kaap bekom is. Dit het verband gehou met eise oor mediese nalatigheid en die bevestiging, goedkeuring en verwerking vir die betaling van enige faktuur of rekening wat vir die lewering van regsdienste ontvang is.

Die proklamasie het die SOE ook bemagtig om enige ander ongerymdhede deur amptenare van die kantoor van die staatsprokureur of enige ander party wat daarby betrek word, te ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Realis Thailand ·

Wat is nuut. So is die hele staatsdiens een groot korrupte spul

Kremetart ·

En wat is 300 000? ‘n Druppel in die see van bedrog en diefstal.

Nie Verbaas ·

R300000? Dis kleingeld. En Gomba? Klein vissies vinnig verhoor en gestraf maar groot visse val onder ander reels.

KhoiKhoi ·

Wat ek egter nie kan klein kry nie is hoe iemand ‘n salaris van potensieel miljoene so kan weggooi.
Of was daar alreeds miljoene gemaak?

Tjom ·

Hoe kry jy R5000 borg op n R330000 saak? Maak borg minimum 10% van aanklag?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.