Die liggame van twee mense wat verdrink het toe hulle deur die onlangse kitsvloede in Gauteng meegesleur is, is gevind.
Kapt. Kay Makhubele, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn vrou se liggaam is Saterdagoggend by die Dickie Fritz-brug in Edenvale aan die Oos-Rand gevind. Sy was ongeveer ses maande swanger. Haar motor is vroeër ook in Edenvale deur die vloedwater meegesleur. Die motor is Vrydag in die gebied gevind.
Makhubela het bevestig die vrou, in haar 30’s, is geïdentifiseer en haar naasbestaandes is van haar dood ingelig. Hy wou egter nie haar naam bekendmaak nie.
Intussen is ʼn man se lyk Saterdagoggend in die Apiesrivier naby die Wonderboom-natuurreservaat in die noorde van Pretoria gevind. Ao. Johan van Dyk, ʼn polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê die man se liggaam is deur lede van die publiek gevind.
“Tot dusver kon ons nog nie die man se identiteit of sy ouderdom vasstel nie. Ons weet ook nie hoe of waar hy in die water beland het voordat sy liggaam tot hier gespoel het nie,” het Van Dyk gesê. “Ons is tans besig om by die omliggende polisiestasies navraag te doen oor vermiste persone wat daar aangemeld is om te kyk of ons sy identiteit só kan vasstel.”
Intussen gaan die soektog steeds voort na die vrou wat Vrydag in die vroeë oggendure in vloedwater van die Apiesrivier by die laagwaterbrug in Flowersstraat, Capital Park, in Pretoria se Moot-gebied, beland het.
Maroela Media het vroeër berig Madelain Murray en haar 23-jarige seun was in die motor toe dit omstreeks 03:00 deur vloedwater meegesleur is. Die seun kon daarin slaag om uit die motor en vloedwater te kom, maar sy ma is saam met die voertuig meegesleur. Die motor is Vrydagoggend opgespoor, maar daar was nog geen teken van Murray nie.
ʼn Familiewoordvoerder het Sondag aan Maroela Media bevestig dat die soektog steeds voortgaan.
Vandag is dag 4 se soektog, ek hoop hulle vind haar vandag sodat alles net tot op ‘n punt kan kom, shame dit moet VREESLIK wees.
En vir almal wat help met die SOEKTOG – God seen julle, dankie vir julle hulp !