Twee voertuie in vlamme in taxi-geweld

Een van die uitgebrande voertuie (Foto: Verskaf)

Die polisie se Mopani-distrikskommissaris, genl.maj. Maggie Mathebula, het ʼn gesamentlike operasie geloods om die voortslepende taxi-geweld in die Ritavi-gebied net buite Tzaneen te bekamp. Taxi-geweld het Dinsdag daartoe gelei dat twee voertuie aan die brand gesteek is en ’n derde voertuig met klippe bestook is.

Kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, sê die operasie wat lede van die polisie van verskillende polisie-eenhede, die provinsiale en munisipale verkeerspolisie en ander belanghebbendes insluit, is Maandag in die gebied ontplooi om die geweld hok te slaan.

Die geweld volg nadat twee taxi-verenigings oor die bedryfsroetes in die gebied begin verskil het.

“Die konflik het tot uiting gekom toe die twee taxi-verenigings sommige van die paaie versper en mekaar met voertuie gejaag het. Dit het die verkeersvloei langs die paaie van die Ritavi- en Maake-gebied in die rigting van Tzaneen ontwrig.”

Die taxi’s wat gestop en deursoek is (Foto; Verskaf)

Altesaam 131 minibusse is gestop en deursoek en nege hiervan is geskut weens die oortreding van die Verkeerswet tydens ʼn padversperringsoperasie wat by Letaba Cross langs die R36-pad, digby Tzaneen, uitgevoer is. Die bestuurders van drie van die nege minibusse is elk ʼn boete van R5 000 opgelê. Boetes van R2 000 elk is verder aan nog twee taxi’s uitgereik.

Sake van kwaadwillige saakbeskadiging is aanhangig gemaak in verband met die beskadigde voertuie. Nog niemand is in verband hiermee in hegtenis geneem nie.

Lt.genl. Nneke Ledwaba, die provinsiale polisiekommissaris in Limpopo, het die voorval veroordeel.

“Taxi-verenigings en -operateurs word versoek om die regsprosesse te volg in geval van geskille of meningsverskille eerder as om geweld te gebruik. Diegene wat steeds aan hierdie onverantwoordelike optrede deelneem, sal nie ongestraf bly nie,” sê Ledwaba.

Die situasie word nog deur die polisie gemonitor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Persheks Adri ·

Ag asseblief die taxi’s beheer die land en kom weg met alles! Hierdie is die enigste taal wat hulle ken. Moet nie skud nie skraap hulle. Geen wet en orde in die land nie thanks ANC cartel pffft

Nico ·

Die probleme met die taxi’s kan gelê word voor die deur van die ANC hulle het geen beheer oor die mense nie selfs die minister van transport het geen beheer nie.

Hennie J ·

Die taxi industrie is n mag en regering op sy eie wat hom nie aan wet en orde steur nie. Los hulle sodat hulle dit op hulle afrikamanier onderling kan uitsorteer. Spandeer liewer meer tyd en energie aan plaasbeveiliging.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.