Twee voetgangers op besige paaie doodgery

Die ongeluk in Bloemfontein. Foto: Verskaf.

Twee voetgangers is Woensdag in twee onderskeie voorvalle in die Vrystaat en KwaZulu-Natal doodgery.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê ʼn man is laat Woensdagaand deur ʼn motor getref op die N1-snelweg naby die Nelson Mandela-brug in Bloemfontein.

“Paramedici het omstreeks 22:40 by die toneel opgedaag en die man se liggaam in die middel van die pad aangetref. ʼn Motor was ʼn paar meter weg geparkeer.”

Die man is op die toneel dood verklaar weens sy veelvuldige beserings.

Die twee insittendes van die motor was ongedeerd, maar is na ʼn hospitaal geneem om berading te ontvang.

In ʼn ander voorval is ʼn onbekende man Woensdagaand op die R102 in Mount Edgecombe in KwaZulu-Natal doodgery.

Reaction Unit South Africa (Rusa) het in ʼn verklaring gesê die nooddienste is deur verskeie motoriste van die voorval in kennis gestel.

“Die man was dood teen die tyd dat ons by die toneel opgedaag het,” lui die verklaring.

Volgens Rusa het die voetganger probeer om die pad oor te steek toe hy deur ʼn VW Golf GTI getref is. “ʼn Tweede voertuig, glo ʼn BMW, het die man ook getref en hom meters ver gesleep voor die bestuurder van die toneel gevlug het sonder om te stil te hou.”

Die bestuurder van die Golf is nie tydens die voorval beseer nie.

Die ongeluk in Mount Edgecombe. Foto: Verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Moun'iek ·

Ai … Dit darem maar so hartseer om dit te lees!!
Die mense kan nie afstand skat nie, dan word daar net oor die pad gehardloop.
Die arme motoriste is dan die “moordenaar” wat vir altyd sleg gaan voel & dan ook ‘n klad op sy naam hê!?

joe ·

Dan kan n mens nie eers n saak teen die skuldige een se boedel maak om jou kar te laat regmaak nie. Hy maak die moelikheid on ons moet betaal. Dis nie reg nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.