Twee vroue glo deur polisiebeamptes verkrag

Argieffoto: Nico Strydom

Argieffoto: Nico Strydom

Twee polisiebeamptes word van verkragting beskuldig nadat ʼn vrou glo in ʼn vangwa en ʼn ander glo in ʼn aanhoudingsel by ʼn polisiestasie verkrag is.

Moses Dlamini, nasionale woordvoerder van die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod), het gesê een van die voorvalle het na bewering Vrydagaand by die Laingsburg-polisiestasie in die Wes-Kaap gebeur. ʼn 20-jarige vrou is in hegtenis geneem in verband met ʼn saak van diefstal en alleen in ʼn sel by die polisiestasie toegesluit.

“Terwyl sy in die polisiesel was, het ʼn polisiebeampte binnegekom, haar gegryp, gesoen, haar klere uitgetrek en ʼn struweling het ontstaan,” het Dlamini gesê. Hy het gesê die beampte se vuurwapen het op die grond geval en hy het dit vinnig gegryp en op die vrou gerig. Die beampte het haar aangesê om stil te bly en gedreig om haar te skiet as sy om hulp sou roep. “Die polisiebeampte het die slagoffer na bewering in die polisiesel verkrag,” het Dlamini gesê.

Die voorval het Saterdag aan die lig gekom nadat die vrou ʼn verkragtingsaak aanhangig gemaak het en Opod het die ondersoek oorgeneem. Volgens Dlamini sal ʼn uitkenningsparade gehou word om die verdagte te identifiseer.

Intussen ondersoek Opod nog ʼn verkragtingsvoorval wat glo in Paballelo in die Noord-Kaap gebeur het. Volgens Dlamini het ʼn 22-jarige vrou uit ʼn kroeg gekom en na die polisiestasie geloop om vir ʼn rygeleentheid huis toe te vra.

“ʼn Dubbelkajuit-polisiewa het buite die polisiestasie gestaan met twee polisiebeamptes in uniform geklee binne die voertuig. Die polisiebeamptes het ingestem om die slagoffer huis toe te neem,” het Dlamini gesê.

Na bewering het die beamptes in ʼn doodloopstraat in Pilanestraat stilgehou en die vrou aangesê om agter in die voertuig in te klim. Hulle het daarna na ʼn grondpad langs die treinspoor gery waar die slagoffer agter in die voertuig verkrag is. Volgens Dlamini het die beamptes die vrou daar gelos en sy het die polisie ontbied om die verkragting aan te meld.

“Die slagoffer is medies ondersoek en positiewe DNS sowel as ander bewyse is gekry,” het Dlamini gesê.

Daar is nog geen verdagtes in verband met die twee voorvalle in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Santie ·

Sulke polisie lede sleep die naam van die hele polisiemag deur die modder. Daar is nog baie goeie polisie oor, maar word nou oor dieselfde kam geskeer as die verkragters. Straf hulle bitter swaar.

Theresa B ·

Lafaards. Dis ook al wat hulle op hulle kleinbrein het. Pleks dat hulle, hulle pligte uitvoer waarvoor hulle aangestel is. Maar dis ook seker “kultuur”.

charlie ·

Nou vra ek jou….
Ons moet hul vertrou vir hulp…maar hulle SELF IS DIE WOLWE IN SKAAPKLERE!!!!Hoe op aarde kan SA ooit weer n mooi skoon en beter land word as die regering moor verkrag en kan se wat hulle wil…..geen wonder mense trek na ander lande!!! Ons kan maar net op God vertrou!!!!

GES ·

Waarheen gaan ‘n mens vir beskerming as die polisie die vyand is ??

Uvonka ·

Onthou net as jy ‘n “bedge” en vuurwapen het is jy bo die wet verhewe!! Ek vertrou GEEN polisiebeampte nie.

Skokkend ·

En dan word daar rewards uitgeloof vir die in hegtenisname van makkers wat die polisie doodskiet?

Carel ·

Weereens ‘n bewys waar sit die meeste polisiemanne se verstand.

liza ·

Dis so waar jy kan hulle nie meer vertrou nie, hulle is soos Charlie se wolwe in skaapklere, en as ek ‘n gun het whaw pasop ek is van die Polisie en mag maak wat ek wil… toemaar julle sal ook julle dag kry…… geniet dit solank julle kan.

CAROL ·

UVONKA – EK STEM SAAM JOU! KYK BIETJIE MEESTE VAN ONS MISDAADIGERS EN SKELMS IS IN DIE POLISIE

Lance ·

Ag nee man …jy weet die regter was lyk my nogal reg ….dis uiters skandalig ! En dit is nou mense wat ons moet oppas en n voorbeeld stel …geen wonder die polisie en die land is in so n groot gemors !

hartseer ·

Ja…. en so word almal deer die selfde kam geskeer……
my geliefde het sy hele lewe gegee om ander te beskerm… hy het die “bedge”gedra soos Uvonka se… sy moordenaars is op vrye voet …
Sokkend: sou jy nie ook n reward wou uit he om jou geliefde se moordenaars te kan help vas trek nie???
ja daar is van hulle wat skelm is, maar dink aan die wat agter moes bly omdat hul mans en vrouens se lewe geneem is net om ander te beskerm…

Uvonka ·

Hartseer ek vra groot verskoning vir die veralgemening maar in vandag se tyd is dit maar moeilik om “hulle” te vertrou. My innigste simpatie met die verlies van jou geliefde.

Johanna ·

Bang dit maak n mens bang. ons is veronderstel om hulle te vertrou. Hoop hierdie saak word in n baie ernstige lig beskou en gestraf!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.