Twee vroue in kritieke toestand ná ongeluk

Foto: ER24

Twee vroue moes Sondagmiddag per helikopter na ʼn hospitaal geneem word nadat hulle kritieke beserings in ʼn motorongeluk naby Hekpoort in Gauteng opgedoen het.

Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, het gesê die ongeluk het op die R563 gebeur en paramedici is omstreeks 12:30 na die toneel ontbied.

Die wrak van die motor is langs die pad aangetref met drie vroue binne wat almal veelvuldige beserings opgedoen het. “Al drie vroue was vasgekeer en moes deur beamptes van die Wesrand-distrik se brandweerdepartement uit die wrak gehaal word,” het Vermaak gesê.

Twee mediese helikopters is na die toneel ontbied om twee van die vroue wat in ʼn kritieke toestand was na ʼn hospitaal te neem. Die derde vrou is per ambulans met ernstige beserings na ʼn nabygeleë hospitaal geneem.

Vermaak het nie meer besonderhede rakende die ongeluk bevestig nie. Die polisie was op die toneel om die voorval te ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.