Twee mans wat daarvan beskuldig word dat hulle boere in Malalane, Mpumalanga geterroriseer het, is borgtog geweier nadat ’n ondersoekbeampte getuig het hulle hou ’n gevaar in vir die publiek.
Die beskuldigdes, Siyabonga Masilela en Ndumiso Mahlalela, albei van Tonga, het onskuldig gepleit op nege aanklagte elk toe hulle Donderdag in die Tonga-landdroshof verskyn het. Die aanklagte sluit moord, poging tot moord, huisbraak, diefstal, roof met verswarende omstandighede en die besit van ongelisensieerde vuurwapens in.
“Hierdie verdagtes is baie gevaarlik vir die gemeenskap en hulle het nie ‘n permanente woonadres nie. Hulle word ook verbind met talle onopgeloste sake in die Nkomazi-gebied,” het ao. Mgugugu Leonard Bhembe, die ondersoekbeampte, getuig.
“Die verdagtes se vingerafdrukke word met verskeie sake by ses polisiekantore in Nkomazi verbind. Hulle is te gevaarlik om in die gemeenskap te woon.”
Masilela is op 13 Februarie in hegtenis geneem en Mahlalela op 13 Maart.
Landdros Sibonisiwe Sibuyi het die saak tot 2 Julie uitgestel sodat ’n verhoordatum in die hooggeregshof bepaal kan word.
Dis te hope dat borg nie eers oorweeg sal word nie.