Twee wat brandstof steel sterf aan brandwonde

Albei mans het ernstige brandwonde opgedoen. (Foto: Valke)

Twee mans wat verlede week betrap is toe hulle brandstof uit ʼn pypleiding in Mpumalanga wou steel, is dood weens die ernstige brandwonde wat hulle  in die proses opgedoen het.

Maroela Media het vroeër berig veiligheidsbeamptes het die mans, onderskeidelik 28 en 39 jaar oud, Donderdagaand naby Phola aangekeer nadat die Transnet-beheerkamer ʼn skielike daling in drukking in die pypleiding opgemerk het.

ʼn Brand is in ʼn mielieland daar naby opgemerk en by nadere ondersoek is vasgestel dat die vlamme van die pypleiding af kom. Albei die mans het in daardie stadium reeds ernstige brandwonde opgedoen en is in hegtenis geneem.

Die polisie het ook onder meer beslag gelê op ʼn bakkie, ʼn kragopwekker en verbrande kledingstukke.

Kapt. Dineo Lucy Sekgotodi, woordvoerder van die Valke, het Maandag gesê die twee het in die Witbank-hospitaal aan hul beserings beswyk.

Hulle sou tereg staan op aanklag van kwaadwillige saakbeskadiging, beskadiging van noodsaaklike infrastruktuur en diefstal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.