Twee wat glo jagluiperds vang weer in hof

Argieffoto van ‘n jagluiperd (Foto aan Maroela Media verskaf deur Dinokeng)

Die twee mans wat vroeër vandeesmaand glo twee jagluiperds onwettig gevang het, sal Woensdag weer in die landdroshof in Bray in Noordwes verskyn.

Volgens lt.kol. Amanda Funani, woordvoerder van die polisie, word David Morolong (39) and Onkemetse Mosiane (26) daarvan beskuldig dat hulle die nasionale omgewingsbestuur se wet op biodiversiteit oortree het.

Dié wet maak voorsiening vir die bestuur en bewaring van Suid-Afrika se biodiversiteit binne die raamwerk van die wet wat beskerming vir spesies en ekosisteme bied.

Maroela Media het vroeër berig Morolong en Mosiane is op 3 Maart deur die polisie se honde-eenheid by Boshoek tussen Sun City en Rustenburg in die Noordwes aangekeer.

Die verdagtes was in besit van twee jagluiperds. Een van dié diere was in ʼn swak toestand en die ander een was reeds dood. Dit is onduidelik waaraan die ander jagluiperd gevrek het, maar Wolhuter vermoed die dier se dood kon stresverwant wees aangesien dié wilde diere glo met die hulp van vier honde en twee perde gevang is.

Volgens Funani was die wilde diere nie in privaat besit nie. “Die diere het los in die bos rondgeloop op die grens van Suid-Afrika en Botswana,” het sy verduidelik.

Sy het gesê polisiebeamptes wat op die dag patrollie gery het, het die beskuldigdes met die diere gewaar waarna hulle voorgekeer is.

Die beskuldigdes kon nie verduidelik waarom die jagluiperds in hul besit was nie, het Funani gesê.

Die beskuldigdes het verlede week vir die eerste keer in die hof verskyn en is tans in aanhouding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Veritas ·

Sulke oortreders moet nie tronktoe gaan nie. Vang hulle in strikke en gaan kyk so een maal ‘n maand of hulle nog daar is.

Jannie ·

So jammer dat die jagluiperds hulle nie lewendig verslind het nie!!!

Haai ·

Ek het nie geweet Bray het ñ landdroshof nie… Dis so klein plekkie…

As die twee manne naby Sum City gevang is, hoekom moet hul in Bray in die hof wees! Is hulle van Bray?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.