Twee mans is Saterdag in Jeppestown in Johannesburg doodgeskiet deur ʼn man wat hulle daarvan beskuldig het dat hulle geld van hom gesteel het.
Lt.kol. Lungelo Dlamini, polisiewoordvoerder, het gesê albei slagoffers is Suid-Afrikaners.
“Die man het glo in ʼn woonstel ingestap, die mans van diefstal beskuldig en albei geskiet,” het Dlamini gesê.
Die mans is op die toneel dood. Die skieter is nog soek.
Dlamini het gesê ooggetuies het die man herken en dat ʼn volskaalse soektog van stapel gestuur is.
Jeppestown gaan sedert Donderdag gebuk onder ʼn vlaag xenofobiese aanvalle. Altesaam 12 mense wat probeer het om buitelanders se winkels te plunder, is sedert Donderdag daar in hegtenis geneem.