Twee wat uit was op parool vir moord vasgetrek

(Argieffoto: Bill Oxford/Unsplash)

Twee verdagtes, wat reeds op parool was, is weer vasgetrek, maar dié keer vir moord. Die mans het glo ʼn man van Hlobane in KwaZulu-Natal beroof en vermoor nadat hy vir hulle ʼn rygeleentheid gegee het.

Albei verdagtes was uit op parool weens ʼn saak van verkragting, aanranding en huisroof. Een van die verdagtes is ook gesoek vir ʼn saak van verkragting wat in Hlobane in April 2019 aanhangig gemaak is.

Kapt. Nqobile Gwala, woordvoerder van die polisie, sê die mans het Saterdagmiddag na bewering vir Bhekuyise Mazibuko (56) van Hlobane vir ʼn rygeleentheid na ʼn nabygeleë winkel in die omgewing gevra. Mazibuko het ingewillig en hulle het hom toe van sy voertuig beroof en aan die linkerkant van die bors geskiet.

“Sy liggaam is Maandagaand in die bosse by die Leenek-omgewing naby ʼn ou myn gevind. Sy selfone wat ook gebuit is, is later in die besit van een van die verdagtes gevind,” sê Gwala.

Mazibuko se familie het hom Sondag as vermis by die Hlobane-polisie aangemeld nadat hy nie huis toe gekom het nie. Sy selfone was ook af. Sy motor is later dieselfde dag (Sondag) by Carolina in Mpumalanga gevind.

Twee mans, onderskeidelik 27 en 28 jaar oud, is deur die Carolina-polisie vir ondervraging ingeneem nadat die polisie hulle in besit van ʼn voertuig en selfone gevind het.

“Die polisie in Carolina het onmiddellik met die Hlobane-polisie kontak gemaak en daar is vasgestel dat die voertuig aan Mazibuko behoort het.”

ʼn Multitaakspan van die polisie het gister (Maandag) onverpoos aan die saak gewerk.

“Deur intensiewe ondersoek het een van die verdagtes gewys waar hy die vuurwapen met sewe patrone weggesteek het. Die vuurwapen is onder ʼn rots naby ʼn verlate huis gevind. Hy is aangekla van die onwettige besit van ʼn vuurwapen en sewe patrone.”

Die voorlopige ondersoek dui daarop dat die vuurwapens vroeër die naweek tydens ʼn motorkaping in Paulpietersburg gesteel is.

“Daar word beweer dat ʼn motoris Vrydag omstreeks 14:00 in die Paulpietersburg-omgewing gery het toe dieselfde twee mans hom vir ʼn rygeleentheid gevra het. Hulle het hom toe glo van sy voertuig, vuurwapen, selfoon en kontant beroof. Die verdagtes het die voertuig op dieselfde dag weens meganiese probleme verlaat.”

Die dossier is intussen oorgedra van die Carolina-polisie na die polisie in Vryheid. Aanklagte van moord, roof, regsverydeling, die besit van gesteelde eiendom, die besit van onwettige vuurwapens en ammunisie word tans ondersoek.

Hulle het Maandag reeds in die landdroshof in Carolina verskyn en sal na verwagting Woensdag in die landdroshof in Vryheid verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

marius ·

Dan wil mense weet hoekom die gemeenskap reg in eie hande neem ?

Pieter ·

Die land se regstelsel is net so groot grap as wat die ANC regering is.

Johann ·

Het die publiek toegang tot rekords van sake waar borgtog uitgedeel word soos kleingeld? Maw die naam van die persoon wat verandwoordbaar is vir die loslaat van verkragters en moordenaars?

Jackie ·

Hoe is dit moontlik dat n beskuldigde op parool vrygelaat word en die landdros, prokureur en paroolraad voorsitter is skotvry wanneer die gevangene vir n soortgelyke oortreding inhegtenis geneem word.

Maggies ·

Dan is die regering eintlik verantwoordelik vir die moorde. Hulle was seker van die spul wat aan die begin van die pandemie uitgelaat is.

Elize ·

Hulle moet die landros wat die parool gegee het aankla vir moord want dit is deur sy / haar toedoen dat nog ‘n lewe in sy maai is

Maggies ·

Om volgende week weer borgtog te kry. Sulke mense verdien net een straf en dit is doodstraf.

Debbie ·

Ek dink parool word te maklik in ons land toegestaan. In lande soos Amerika word die slagoffer of familie van die slagoffer ingelig as parool ter sprake kom. Ek dink ons moet dit hier ook doen. Die slagoffer of familie van die slagoffer, polisielede en staatsaanklaer moet betrek word by die paroolaansoek. Dalk selfs lede van die publiek. Veral ernstige misdade, soos moord, verkragting, roof en ernstige bedrog. Ek sê nie mense moet nie parool kry nie. Ek dink as ‘n persoon nie ‘n gevaar vir die samelewing inhou nie en werklik berou oor sy dade het kan hy weer terug in die samelewing gaan. Almal maak foute. Ek dink net parool word te gou toegestaan. Misdade soos moord en verkragting is tog ernstige misdade. Jy kan nie net ‘n paar maande sit en dan vrygelaat word nie. Sekerlik moet die persoon deur rehabillitasie programme gaan. En sielkundiges en maatskaplike werkers moet seker met so ‘n persoon werk voordat hulle net vrygelaat word.

Deon ·

Laat hulle maar weer los onder die publiek, moenie parool teenstaan nie….. Onthou hulle is onskuldig tot hulle skuldig bewys word in n hof….. “na intensiewe ondersoek het die verdagte die vuurwapen uitgewys” is ondervraging dan intensiewe ondersoek, ek vra want ek weet nie.

Francois ·

Kla die ANC aan vir moord. Hulle laat mos hulle kaders vinnig vry

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.