Twee WB-wedstryde gekanselleer oor tifoon

Wêreldrugby en die reëlingskomitee van die Wêreldbeker-toernooi in Japan het besluit om van die naweek se wedstryde te kanselleer oor tifoon Hagibis.

Die tifoon kan moontlik dié grootste van die 2019-seisoen wees en sal na verwagting Saterdag aansienlike ontwrigting in Tokio, Yokohama en Toyota veroorsaak. Volgens die reëlingskomitee sal openbare vervoer na verwagting erg geraak word of selfs tot stilstand kom.

“Wêreldrugby en die reëlingskomitee het gevolglik die moeilike maar regte besluit geneem om wedstryde in die gebiede wat geraak gaan word op veiligheidsgronde te kanselleer. Die betrokke spanne is reeds in kennis gestel en het begrip. Twee punte sal aan die spanne toegeken word in ooreenstemming met die toernooireëls vir die wedstryde wat nie voortgaan nie.”

Volgens die twee instansies is die veiligheid van die spanne en die publiek hul hoofprioriteit.

Die satelietfoto wat op 9 Oktober geneem is wys tifoon Hagibis wat onderweg is na Japan. (NASA Worldview, Earth Observing System Data and Information System (EOSDIS) via AP)

Vrydag se wedstryd tussen Australië en Georgië om 12:15 (SA tyd) gaan voort soos geskeduleer. Saterdag se wedstryd tussen Ierland en Samoa gaan ook voort terwyl die wedstryde tussen onderskeidelik Nieu-Seeland en Italië en Engeland en Frankryk gekanselleer is.

“Die besluit om wedstryde te kanselleer is nie ligtelik geneem nie en wel in die beste belang van die publiek, spanne, toernooipersoneel en vrywilligers se veiligheid, gegrond op kundige raad en gedetailleerde weerinligting.

“Hoewel ons alle opsies breedvoerig ondersoek het, was die openbare veiligheid en spanveiligheid ons grootste prioriteit, asook om ʼn konsekwente, billike en regverdige uitkoms vir alle spanne te verseker.” Volgens die reëlingskomitee sal mense wat kaartjies vir die wedstryde gekoop het hul geld terugkry.

Dit is intussen nog nie duidelik of Sondag se wedstryde sal voortgaan nie. Wanneer die tifoon verby spesifieke gebiede beweeg het, sal evaluerings gedoen word om ʼn finale besluit te kan neem.

Alan Gilpin (links) en Akira Shimazu, uitvoerende hoof van Japan Rugby 2019, tydens ‘n mediakonferensie. Foto: (AP Photo/Eugene Hoshiko)

Alan Gilpin, toernooidirekteur van die Wêreldbeker-toernooi in Japan, het gesê dit is ʼn ingewikkelde en dinamiese situasie wat noukeurig dopgehou is met die hulp van weerkenners.

“Ons is nou in die posisie om die waarskynlike uitwerking van tifoon Hagibis op die naweek se wedstryde akkuraat te voorspel.

“Hoewel ons elke moontlike poging aangewend het om gebeurlikheidsplanne in werking te stel sodat al Saterdag se wedstryde kon voortgaan, sal dit baie onverantwoordelik wees om die spanne, toeskouers, vrywilligers en ander toernooipersoneel bloot te stel aan ʼn ernstige tifoon.

“Ons het begrip dat Engeland, Frankryk, Nieu-Seeland en Italië se ondersteuners teleurgesteld sal wees, maar ons vertrou dat hulle sal besef hul veiligheid moet die hoofprioriteit wees.

“Ons boodskap aan alle ondersteuners wat in Japan is vir die Wêreldbeker-rugbytoernooi is om na alle amptelike raad te luister, die hele Saterdag binnenshuis te bly en nie op die dag te probeer reis nie.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

23 Kommentare

jongste oudste gewildste
Boesman

Geen konkelry….

Varkie

Belaglik, nes die krieket beker vroeer die jaar. Hoekom n land gebruik in sy somer tydperk waar tifone geneig is om te tref? Daar was al in Julie oor die 6 tifone geskat om te tref die jaar. Hoekom Engeland te gebruik vir krieket beker waar dit elke tweede dag reen, hoeveel spanne was nie ingedoen agv hul belaglike twee punte stelsel nie..

Gerrit

Klink na nog ‘n slinks poging om sekere spanne te bevoordeel.

Safety Officer

@Chrisjan So jy wil eerder die games kyk en laat gebeur as wat die veiligheid van die spelers in ag geneem word. Die spanne is mooi in kennis gestel van die gebeure en elkeen verstaan so hoekom gaan iemand se dis n gekonkelry? Die een wat so iets gaan opbring soek net sensasie……

JohanL

Ek wonder net hoekom word die wedstryde dan nie geskuif na ‘n ander stad buite die pad van die tifoon nie? Toe die toernooi aanvanklik beplan is, moes die gevorderde Japan aan sulke gebeurlikheidsplanne gedink het. Hulle het geweet dit is die seisoen van tifone. Hulle moes voorsiening gemaak het om ‘n wedstryd te skuif. Om ‘n wedstryd te skuif moet sekerlik die beter opsie wees het as om te kanselleer. Veral as jy dit dae voor die tyd doen soos nou. Natuurlik sal daar baie logistiek betrokke wees. Maar ek gaan uit vanaf die aanname dat Japan so fantasties… Lees meer »