Twee weer in hof oor Kaapstad-ma se moord

Die foto's van Rosemary Theron wat op die Missing Children SA-plakkaat gebruik is toe sy as vermis aangemeld is

Die foto’s van Rosemary Theron wat op die Missing Children SA-plakkaat gebruik is toe sy as vermis aangemeld is

Kyle Maspero (18), wat van die moord op die Kaapse vermaaklikheidskunstenaar, Rosemary Theron, verdink word, moet vir sielkundige waarneming gaan, het die Wes-Kaapse hooggeregshof Maandag beslis.

Regter Robert Henney het gesê Maspero moet vir 30 dae lank by die Valkenberg-psigiatriese hospitaal ondersoek word. Hy sal vry wees op borgtog totdat ʼn bed by dié hospitaal beskikbaar is. Die saak is voorlopig tot 9 Julie uitgestel, hangende die uitkoms van die hospitaal se verslag.

Maspero en sy medebeskuldigde, Godfrey Scheepers (20), het saam in die hof verskyn op aanklagte van moord en dwarsboming van die gereg.

William da Grass, Maspero se regsverteenwoordiger, het die aansoek gebring en voer aan sy kliënt sukkel om opdragte vir hom te gee. “My kliënt sukkel om sekere aspekte van die oortreding te onthou, moontlik weens ʼn langdurige gebruik van dwelms,” het Da Grass gesê. “Hierdie toestand het reeds voor die oortreding bestaan en ons wil verhoed dat daar later ʼn probleem ontstaan.”

Henney het gesê hy verstaan nie die aansoek nie, want die misbruik van dwelmmiddels tydens ʼn oortreding kan iemand nie vryspreek van vervolging nie. Hy wou weet of daar ʼn geestelike siekte of afwyking bestaan. Volgens Da Grass het Maspero lank tik (metamfetamien) gebruik en daar is glo wetenskaplike bewyse dat dié dwelmmiddel biologiese en fisiologiese veranderinge aan die brein kan veroorsaak. “Basies is die brein beskadig weens dwelmgebruik. Dit is die eenvoudigste manier om dit te stel,” het Da Grass gesê.

Staatsaanklaer Susan Galloway het saamgestem dat sielkundige waarneming noodsaaklik is, gebaseer op dit wat die verdediging voorgehou het en inligting uit ʼn gesprek met die ondersoekbeampte. Sy het voorlopig dieselfde aanklag teen Scheepers teruggetrek, hangende die uitkoms van die verslag. Sy het aan die regter bevestig sy sal weer die twee beskuldigdes ná die tyd in die hande kan kry.

Theron se 19-jarige dogter, Phoenix Racing Cloud, het verlede maand ʼn pleitooreenkoms met die staat aangegaan. Sy het erken dat sy op 7 Maart 2013 haar kêrel, Maspero, gehelp het om haar ma met ʼn tou by haar huis in Vishoek te verwurg.

Scheepers, wat ook van moord aangekla word, het glo die twee gehelp om die liggaam te skuif en in ʼn vlak graf te begrawe.

Theron (39) was ʼn bekende in Kaapstad se kunskringe en was ʼn professionele hanswors en modelmaker. Sy het ook op stelte geloop. Sy het in 2011 ʼn volgrootte perd vir die Kaapstadse karnaval gemaak. – SAPA

Lees ook:
Twee in hof oor Kaapstad-ma se moord
Dogter gevonnis vir moord op ma

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Shannon ·

So, daar het jy dit : as jy wil moor, drink `n pil en trip eers uit. Moord verander dan skielik in manslag of dalk verdwyn die klag geheel en al. Die moordenaar (en effektiewe dwars bomer ten spyte van die feit dat hy buite homself was) word nou die victim.

PURE BOER ·

Die punt bly staan dat hy n gevaar is. As hy sy breins kleiner wil “tik” is hy nie n mens werd nie. Dwelms maak moordenaars, so almal wat dwelms gebruik moet gestraf word en nie jammer gekry word nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.