Twee wêreldrekords op een slag in SA opgestel

‘n Lugfoto van die kombers (Foto: Daleen Lourens)

Vrywilligers in die Vaaldriehoek het die afgelope naweek sommer twee wêreldrekords op een slag opgestel: vir die grootste handgebreide kombers nóg én vir die meeste komberse wat op een slag aan liefdadigheid geskenk is.

Talle gewillige breiers het in Oktober 2018 begin brei aan dié kombers en kon dié naweek trots hul maandelange handewerk gade slaan.

Die rekord vir die grootste handgebreide kombers ter wêreld is Saterdag opgestel, en die rekord vir die meeste komberse wat op een slag vir liefdadigheid geskenk word, is Sondag opgestel toe die reusekombers losgetorring is om duisende individuele komberse te vorm.

Jaco Verwey, die ondervoorsitter van die Golden Triangle-sakekamer in die Vaaldriehoek wat dié projek bestuur het, het gesê hy is trots daarop dat hul droom ʼn realiteit geword het.

“As mense saamstaan, kan hulle ʼn verskil maak. Dit is nie die soort rekord wat gou oornag gereël kan word of waar geld die rekord kan koop nie. Dit gaan oor mense se handewerk en moeite, juis omdat dit ʼn handgebreide kombers moet wees,” het hy vroeër aan Maroela Media gesê.

Verwey het gesê die projek het ten volle op die samewerking van die Vaaldriehoek-gemeenskap gesteun en mense het selfs op die dag waarop hulle die kombers aanmekaar gewerk het, nog aangebied om te help.

Sowat 1000 mense het gewerk om die kombers aan mekaar te sit (Foto: Daleen Lourens)

“Daar was 250 beplande werkers vir die proses, maar daar was in ʼn stadium sowat 1 000 mense wat kom help het. Dit is wonderlik om te sien hoe mense saamwerk om die Vaaldriehoek ʼn goeie naam te gee,” het hy gesê.

Minstens 4 000 breiers uit die gemeenskap en vrywilligers van reg oor die land het vir agt maande lank gebrei aan dié kombers. Net minder as die helfte van die uiteindelike kombers is met die hand gebrei, terwyl nog komberse gekoop en aangewerk is om die rekordgrootte kombers te vorm.

Die totale kombers was 19 602 m² groot, terwyl die handgebreide gedeelte 8 500 m² was wat uit 9 205 komberse bestaan het. Die vorige rekord vir die wêreld se grootste kombers, is in Ierland opgestel en dié kombers was 1 900 m² groot.

Elke kombers moet aan streng voorafgestelde vereistes voldoen volgens Guinness se standaarde. Verwey het gesê ʼn paar komberse het nie aan die standaarde voldoen nie, en hulle kon toe uiteindelik 8 747 komberse uitdeel, wat steeds meer as genoeg was om die wêreldrekord te oortref.

Die vorige wêreldrekord was 6 500 komberse wat in een dag aan liefdadigheidsorganisasies geskenk is.

“Dit was ʼn lang proses. Ons moes al die komberse opvou, pakke van tien maak, elkeen weeg en ʼn etiket op elkeen plaas voordat ons dit kon uitgee vir die liefdadigheidsorganisasies,” het Verwey gesê.

“Dit was baie moeite en ons het baie hard gewerk, maar ons is bly dat ons dit reggekry het. Dit het almal se verwagtinge oortref en almal was baie emosioneel toe dit klaar is. Ons is dankbaar vir almal wat deel was van die dag. Ons is nou nie meer die Vaaldriehoek nie, ons is die Golden Triangle!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Y ·

Wow! Dit is so mooi. Baie dankie dat julle so baie mense gelukkig gemaak het en baie geluk.

jaco ·

Die 3de wêreldrekord wat ELKE dag opgestel word, is dat SA die land in die wêreld is met die meeste misdaad

Se net... ·

Moerala die sake kamer het vir Annelie van Rooyen vereer so tussen die kombers meting..

Denise ·

Baie dankie vir die gelukwensings namens Al ons breiers hier in die Kaap. Ons waardeer dit. Baie ure en maande SE liefde daarin

willem Botha ·

Ek hou nie van daai vlag nie,dit is n simbool van onderdrukking van die minderhede deur wetgewing van n regering gebaseer op velkleur .

Edith ·

waarom negatief wees oor dit, ek dink dis amazing. Ons is hier om ‘n positiewe verskil te maak en hierdie was beslis ‘n positiewe verskil. Welgedaan!!!!!

Lorma Naude ·

Pragtige Pretasie, net jammer daar word van die breiers van die Vaal Driehoek gepraat en bedank, terwyl daar van oral in die land breiers was, soos die Aftree Oord, Trans 50 Jakaranda Park in Pretoria onder andere, en baie ander indivuele breiers. .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.