Twee werkers dood in mynongeluk

Die Platreef-mynontwikkelingsprojek. Foto: Ivanhoe Mines

Aktiwiteite by ʼn myn in Mokopane (Potgietersrus) is tydelik gestaak na ʼn voorval waarin twee werkers dood is.

Die Kanadese myngroep Ivanhoe Mines het gesê die voorval het Maandagoggend by die Ivanplats-myn se Platreef-mynontwikkelingsprojek plaasgevind.

Voorlopige inligting dui daarop dat ʼn hysemmer geval en ʼn werkplatform getref het waar vier werknemers met waterpompaktiwiteite besig was. Twee werkers is dood en een beseer. Die ander werker word steeds vermis. Die beseerde werker is uit die skag gered en na ʼn hospitaal in Johannesburg vervoer.

Marna Cloete, president en finansiële hoof van Ivanhoe Mines, het namens die bestuur van die myngroep haar medelye betuig met die families van die oorledenes. “Die veiligheid van almal by ons mynpersele is ons hoogste prioriteit. Ons sal nou saam met die Suid-Afrikaanse owerhede werk om die oorsaak van die ongeluk te bepaal.”

Spesialisingenieurs se dienste is verkry om te help om die moontlike oorsake van die ongeluk vas te stel. Ontwikkelingsaktiwiteite by Platreef is opgeskort hangende die ondersoek en sal volgens Cloete slegs hervat word sodra die veiligheid op die terrein verseker kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.