Twee werkers sterf in Tshepong-myn

myn staking mynhoed

Argieffoto

’n Grondstorting by die mynmaatskappy Harmony Gold se Tshepong-myn tussen Welkom en Odendaalsrus in die Vrystaat het die naweek die lewe van twee mynwerkers geëis.

Volgens die vakbond Amcu is die twee werkers Saterdagoggend tydens ‘n grondstorting tydens skoonmaakpligte in dié myn dood.

Die vakbond sê in ’n verklaring geen ander mynwerkers is in die voorval beseer nie.

“Amcu verneem dat ‘n ondersoek aan die gang is en dat daar nog geen verdere inligting beskikbaar is oor die oorsaak van die voorval nie. Wat ons wel weet is dat grondstortings tot dusver vanjaar die meeste sterftes [onder mynwerkers] veroorsaak het, ondanks die algehele landwye afsondering.

Luidens die verklaring was grondstortings ook verantwoordelik vir die meeste sterftes verlede jaar én die jaar tevore van mynwerkers in die land.

Volgens Amcu is 42 mynwerkers die afgelope jaar aan diens dood. Die departement van minerale hulpbronne en energie se statistieke het egter teen einde September getoon dat die mynbedryf oor die afgelope jaar 37 mynwerkers verloor het terwyl 1 053 beserings aan diens opgedoen het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.