Twee wetstoepassers, 21 ander vas oor ‘stropery’

Argieffoto (Foto: Rhino Horn Auction)

ʼn Polisiebeampte en ʼn beampte van die departement van korrektiewe dienste is twee van 23 verdagtes wat die afgelope week in hegtenis geneem is op aanklagte wat met renosterstropery verband hou.

Brig. Vishnu Naidoo, woordvoerder van die polisie, het in ʼn verklaring gesê die 23 verdagtes is onderskeidelik in Hluhluwe, Mkhuze en Pongola in KwaZulu-Natal, Calcutta en Skukuza in Mpumalanga en Lulekani in Limpopo in hegtenis geneem.

“Tydens die inhegtenisnemings is daar op drie bakkies, ses ongelisensieerde gewere, drie pistole, ʼn verskeidenheid ammunisie, knaldempers, ʼn geweerteleskoop, byle, messe en 18 selfone beslag gelê,” het Naidoo gesê.

Hy het gesê die inhegtenisnemings is deur Rhino 8 gedoen, ʼn span wat uit verskeie regeringsdepartemente bestaan, asook die SAPD, die weermag en veldwagters van Ezemelo en SANParke. “Hierdie span werk onverpoosd om die slagting en onthoorning van ons renosters stop te sit,” het hy gesê.

Naidoo het gesê die meeste verdagtes het reeds in verskillende howe verskyn op aanklagte van onder meer betreding, jag van ʼn beskermde diersoort, ontvoering, aanranding, besit van renosterhorings, onwettige besit van ʼn vuurwapen, besit van gesteelde goedere en oortreding van die wet op immigrasie.

“Die inhegtenisneming van die polisiebeampte en die korrektiewe dienste-beampte is aanduidend van die Rhino 8-span se toewyding om sy mandaat sonder vrees of vooroordeel uit te voer. Dit is kommerwekkend wanneer mense wat vertrou word om die wet toe te pas die einste mense is wat die wet na bewering oortree. Dit is onaanvaarbaar,” het Naidoo gesê.

“Hoewel dit beslis die SAPD in ʼn slegte lig stel, moet daar beklemtoon word dat die oorgrote meerderheid van lede in die SAPD toegewyde, hardwerkende beamptes is wat verbind is daartoe om aan hul grondwetlike mandaat te voldoen en seker te maak dat mense in Suid-Afrika veilig is.”

Naidoo het gesê die inhegtenisnemings moet ook as ʼn waarskuwing aan ander potensiële stropers dien dat hul kanse op sukses nul is. “Met die toenemende hulp van die gemeenskappe, is stropers se dae getel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

HPH ·

Well done meneer Naidoo en span !
Ek hoop nou die regtig dink gebeur en hierdie mense gaan tronk toe en ‘n mens sien hulle nooit weer nie.

Hoe sê? ·

Die meeste van die kriminele het al vantevore in die hof verskyn op verskeie aanklagte, waaronder renoster stropery . . .
Moet Jan Alleman daaruit aflei dat hulle wéér vrygelaat gaan word, & dat ons in die toekoms weereens oor hulle herhalende kriminaliteit in die koerante sal moet lees??
As hulle in Botswana gevang was, was hulle lankal PERMANENT uit die samelewing verwyder gewees.

Jacques venter ·

Dis hoog tyd dat alle wetstoepassers leuenverkliker toetse moet onder gaan. Die SAPD durf nie verder kriminele aanstel nie.

Mens is erg bekommerd oor ingehandigde vuurwapens wat by polisie stasies gesteel word

Alida ·

Daai wapens is in voĺle omloop. Waar anders kry elke skurk n wapen. Koop dit by korrupte SAPD lede. Waar anders.

Zana ·

Dis nou die hoeveelste berig wat ek lees wat sè dat alhoewel die beamptes die SAPD in ñ slegte lig stel is daar talle ander wat die mense van die land wil beskerm. Goed en wel. Wie bepaal watter beampte is skelm of dan nie? Die grootste aantal kriminele is in hulle diens. Jy kan geen een meer vertrou nie. Nie as hulle jou stop langs die pad of waarokal nie. Want wie weet, móre is jy die bus met toeriste, en loop jy dalk nie met jou lewe daar weg nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.