Twee wetstoepassers vir ‘omkopery’ aangekeer

geld ekonomie suid-afrika

(Argieffoto)

Twee wetstoepassers is die afgelope Paasnaweek in hegtenis geneem nadat hulle glo omkoopgeld van motoriste gevra het.

Die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) in samewerking met die polisie se teenkorrupsie-eenheid en die nasionale teenkorrupsie-verkeerseenheid het ʼn 45-jarige verkeerskonstabel van Randfontein en ʼn 56-jarige polisiekaptein van Johannesburg vasgetrek.

Volgens Ndileka Cola, woordvoerder van Opod, het die verkeerskonstabel Vrydag ʼn spoedkamera beman toe hy ʼn polisiebeampte wat homself as ʼn gewone motoris voorgedoen het, voorgekeer het. Die verkeerskonstabel het glo R200 se omkoopgeld van die polisiebeampte geëis en is summier in hegtenis geneem.

Hy word by die Randfontein-polisiestasie aangehou. Die teenkorrupsie-eenheid sal die saak ondersoek aangesien die verkeerskonstabel nie ʼn polisiebeampte is nie en dus nie deur Opod ondersoek kan word nie.

In ʼn afsonderlike voorval is ʼn polisiekaptein van Johannesburg Maandag in hegtenis geneem toe hy glo ʼn ongemagtigde padblokkade in Steynstraat in Observatory gehou het. Die polisiekaptein het ook ʼn polisiebeampte wat homself as ʼn motoris voorgedoen het, voorgekeer.

Die polisiebeampte is vir sy rybewys gevra, maar nadat hy dit nie verskaf het nie, het die kaptein na bewering R100 omkoopgeld geëis.

Die kaptein is in hegtenis geneem en by die Yeoville-polisiestasie aangehou.

Hy sou na verwagting vandag in die Johannesburg-landdroshof verskyn. Opod se ondersoek na die voorval duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Genis ·

Ry asb rond in Tshwane, julle behoort die meerderheid van die Metro Polisie toe te sluit

Persheks Adri ·

Ook maar lekker stupid! Gooi jou naam en loopbaan weg vir R100 en R200 gggmmmfff. Leer dit seker by regering as leermeester pffft

Roedolf Johannes ·

Wat wou hulle gaan hoog op in die regering n pos.

JM ·

Korrupsie: standaardprosedure in Suid-Afrika. Hierdie land is verby verrot!!

Stefan ·

Maak van hulle grooooot voorbeelde.
Baie beindruk met polisie beamptes wat hul voordoen as gewone bestuurders en hulle so vasvat.

Pietertjie ·

Daars ‘n Afrika-gesegde: moenie met leë hande na die kaptein gaan nie. Die misdaad is dat hulle uitgevang is.

Deon ·

Wonder hoe lank hulle so gaan aangaan om hierdie tipe goed vas te vat….. Wanneer is die verkiesing nou weer?

Mariana ·

Ag shame hulle wou seker maar vir hulle paaseiers koop, want met daai geldjie kan jy nie veel koop nie, selfs paaseiers is buitensporig duur. Maar miskien dink die res nou 2 keer voor hulle dieselfde doen. Dit maak nie sin dat jy als op die spel plaas vir ‘n paar rand nie.

Hester Wilhelmina ·

Ek lag kliphard!! Ek wonder hoeveel van hierdie morone vra NIE omkoopgeld nie???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.