Twee wetstoepassers is die afgelope Paasnaweek in hegtenis geneem nadat hulle glo omkoopgeld van motoriste gevra het.
Die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) in samewerking met die polisie se teenkorrupsie-eenheid en die nasionale teenkorrupsie-verkeerseenheid het ʼn 45-jarige verkeerskonstabel van Randfontein en ʼn 56-jarige polisiekaptein van Johannesburg vasgetrek.
Volgens Ndileka Cola, woordvoerder van Opod, het die verkeerskonstabel Vrydag ʼn spoedkamera beman toe hy ʼn polisiebeampte wat homself as ʼn gewone motoris voorgedoen het, voorgekeer het. Die verkeerskonstabel het glo R200 se omkoopgeld van die polisiebeampte geëis en is summier in hegtenis geneem.
Hy word by die Randfontein-polisiestasie aangehou. Die teenkorrupsie-eenheid sal die saak ondersoek aangesien die verkeerskonstabel nie ʼn polisiebeampte is nie en dus nie deur Opod ondersoek kan word nie.
In ʼn afsonderlike voorval is ʼn polisiekaptein van Johannesburg Maandag in hegtenis geneem toe hy glo ʼn ongemagtigde padblokkade in Steynstraat in Observatory gehou het. Die polisiekaptein het ook ʼn polisiebeampte wat homself as ʼn motoris voorgedoen het, voorgekeer.
Die polisiebeampte is vir sy rybewys gevra, maar nadat hy dit nie verskaf het nie, het die kaptein na bewering R100 omkoopgeld geëis.
Die kaptein is in hegtenis geneem en by die Yeoville-polisiestasie aangehou.
Hy sou na verwagting vandag in die Johannesburg-landdroshof verskyn. Opod se ondersoek na die voorval duur voort.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
12 Kommentare
UITSTEKEND.Dit is net jammer daar is 2
Ry asb rond in Tshwane, julle behoort die meerderheid van die Metro Polisie toe te sluit
Ook maar lekker stupid! Gooi jou naam en loopbaan weg vir R100 en R200 gggmmmfff. Leer dit seker by regering as leermeester pffft
Vir so min geld ?ook maar lekker dom.
Korrupsie: standaardprosedure in Suid-Afrika. Hierdie land is verby verrot!!