Twee witrenosters uit Mthethomusha-wildreservaat geskuif

renosters-witrenoster

Argieffoto (Foto: Casey Allen/Pexels)

Die VF Plus verwelkom die verskuiwing van twee witrenosters deur die Mpumalanga-agentskap vir toerisme en parke (MTPA) uit die Mthethomusha-wildreservaat.

Die party het vandeesweek ʼn dringende versoek gerig aan Mpumalanga se LUR vir omgewingsake, Vusi Shongwe, om bedreigde wild so spoedig moontlik uit die reservaat te verwyder en die heining te herstel om stroping te voorkom.

Ken Robertson, woordvoerder van die VF Plus, het gesê die twee witrenosters wat verskuif is, het egter reeds deur die beskadigde heining beweeg en is langs ʼn teerpad buite die reservaat gevind. Hulle is verdoof en verskuif na ʼn onbekende plek.

Maroela Media het vroeër berig die reservaat se heining is beskadig en die Bongani Mountain Lodge is afgebrand deur lede van die aangrensende gemeenskap ná die skietdood van ʼn vermeende stroper.

Robertson het gesê die VF Plus sal druk uitoefen op die LUR en MTPA om ook die twee oorblywende witrenosters en ander bedreigde wild te verskuif na ʼn veiliger omgewing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.