Tweede asem vir drawwer ná taxi-ongeluk

Ela Meiring (Foto: Verskaf)

Nie eens ʼn taxi-ongeluk kon dié kranige drawwer van Robertson in die Wes-Kaap keer om haar Comrades-droom te verwesenlik nie.

Ela Meiring (19) het van kindsbeen af ʼn liefde vir draf en het vanjaar die Junior-titel tydens TotalSports se Twee Oseane-halfmarathon verower. Dit net twee jaar nadat ʼn taxi haar getref het toe sy saam met haar oom gedraf het.

Sy het die Twee Oseane in ʼn tyd van 1:35:46 voltooi en wil nou begin fiks word om die Comrades-marathon aan te durf.

Die ongeluk

Die oggend van 16 Mei 2020 – in Meiring se matriekjaar aan Robertson Logos Christian School – het sy en haar oom oudergewoonte ʼn 20 km-roete in die Klaasvoogds-omgewing buite Robertson gaan hardloop. Dit was bibberkoud en in mistige weer by die 10 km-merk het die onverwagse gebeur.

“’n Taxi het my van agter getref. Die Here het vir my tydelik engelvlerke geleen, want met die impak het ek in die lug opgeskiet, maar gelukkig saggies in ʼn omgeploegde land te lande gekom,” vertel Meiring.

“My oom het my in die taxi na die Robertson-hospitaal geneem waar die dokter gesê het dit is ’n wonderwerk dat ek oorleef het.”

Meiring moes na die Mediclinic in die Paarl gaan vir ’n MRI-skandering net om seker te maak dat sy nie bloeding op die brein opgedoen het nie, aangesien sy tydens die ongeluk ʼn harde stamp teen haar agterkop gekry het.

“Gelukkig het die skandering gewys dat ek geen bloeding op die brein het nie. Ek het ʼn hele paar skrape aan my bene gehad, maar niks wat my ma en huisdokter nie kon gesond dokter nie.”

Meiring het in ’n japtrap herstel en kort voor lank weer haar drafskoene aangetrek en die pad aangedurf.

Sy vertel sy het geen blywende newe-effekte van die ongeluk oorgehou nie.

Tweede asem

Ná die ongeluk het Meiring besluit om voluit te leef, aangesien “die lewe hopeloos te kort is vir kort draaie vat” en het sedertdien verskeie marathons met geesdrif aangepak.

Behalwe vir die Twee Oseane het sy die afgelope twee jaar die ABAX Investment Milkwood-halfmarathon, die Cape Peninsula-halfmarathon en Weskus-halfmarathon se junior-afdeling gewen.

Meiring se grootste prestasie is egter haar oorwinning tydens die Twee Oseane-halfmarathon.

Sy vertel die moeilikste deel van dié marathon was die Southern Cross Drive-bult. Die bult is baie steil en 2 km lank.

“Aan die onder punt van die bult het ek vir so tien treë geloop, maar toe onthou ek die Olimpiese atleet, Gerda Steyn, het eenkeer op Instagram geskryf: ‘Champions don’t walk.’ Ek het weer een voet hardlopend voor die ander een gesit.

“By die eindstreep het ek neergeval. ʼn Oudonderwyser van Robertson Hoërskool, mnr. Charles Faasen, het in 2017 vir my gesê as ’n mens nie by ’n eindstreep neerval nie, het jy nie tydens die wedstryd jou alles gegee nie. Hierdie keer was dit letterlik en figuurlik waar, maar ek het vinnig opgespring toe die televisiekamera op my was. Dis toe dat ek hoor ek is die eerste junior wat klaargemaak het.”

Meiring het dieselfde wedloop in 2019 in ʼn tyd van 1:54:35, voltooi, amper 20 minute stadiger as vanjaar se tyd.

“Ek is trots op myself want ek weet dit is slegs deur harde werk dat ek dit kon bereik. ’n Mens moet altyd die kilometers met respek hanteer en nederig bly, môre is dit weer ʼn ander junior se beurt.”

Meiring hardloop reeds van die ouderdom van tien jaar oud. Sy en haar oom het begin stap en daarna het die hardloopgogga hulle gebyt.

Sy geniet dit om langafstande te hardloop en wil eendag aan die Comrades-marathon deelneem.

Meiring studeer tans aanlyn vir BEd Grondslagfase-onderwys. Sy is ook ʼn Statebond-jeugskrywer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.