Tweede besending J&J-entstof veilig in SA

Suid-Afrika se tweede besending van die Johnson & Johnson-entstof word Saterdagoggend op die OR Tambo-lughawe afgelaai. (Foto: Twitter)

Suid-Afrika se tweede besending van die Johnson & Johnson-entstof het Saterdagoggend veilig op die OR Tambo-lughawe in Kempton Park aangekom.

Die tweede besending bestaan nes die eerste uit 80 000 dosisse en kom vanuit België. Die meerderheid dosisse van die eerste besending is reeds aan gesondheidswerkers toegedien, het dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, vanoggend gesê.

Altesaam 63 648 gesondheidswerkers is teen gisteraand reeds ingeënt teen Covid-19.

Suid-Afrika se tweede besending van die Johnson & Johnson-entstof word Saterdagoggend op die OR Tambo-lughawe afgelaai. (Foto: Twitter)

Meer as 16 000 van dié gesondheidswerkers is in Gauteng ingeënt.

Volgens David Makhura, premier van Gauteng, het die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Soweto Vrydagmiddag die laaste van die 11 080 dosisse toegedien wat vroeër aan hom toegeken is.

Die Steve Biko-hospitaal het die afgelope week nóg 5 000 dossisse ontvang nadat die 5 720 dosisse wat aanvanklik aan die fasiliteit toegeken is, reeds toegedien is.

Suid-Afrika se tweede besending van die Johnson & Johnson-entstof word Saterdagoggend op die OR Tambo-lughawe afgelaai. (Foto: Twitter)

Nóg inentingspersele sal vroeg volgende week in Gauteng oopgemaak word. Die persele sluit in die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg, die Dr. George Mukhari-hospitaal in Pretoria, die Netcare Milpark-hospitaal in Johannesburg en die Ahmed Kathrada- private hospitaal in Lenasia.

Maroela Media het vroeër berig die enkeldosis Johnson & Johnson-entstof is hoogs doeltreffend in die voorkoming van ernstige Covid-19, waaronder die nuwe variante. In groot kliniese proewe was die entstof se doeltreffendheid teen ernstige siekte 81,7% in Suid-Afrika.

Die J&J-entstof gebruik ʼn adenovirus – wat gewone verkoue veroorsaak en in dié geval aangepas is sodat dit nie kan vermeerder nie – om die DNS vir ʼn sleutelproteïen van die koronavirus na menslike selle te vervoer. Dit laat die selle hierdie proteïen vervaardig wat dan die menslike immunstelsel voorberei, versterk en gereedmaak ingeval dit die regte virus teëkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Bolander ·

Doen jouself ‘n guns en ondersoek so bietjie wat in hierdie “entstof” is, en terselfder tyd moet jy ook dan kyk wat die fancy name van die bestandele regtig beteken, dan kan jy ‘n oordeelkunde besluit neem oor hierdie middel. Die alternatief; vra jou huis dokter of hy/sy dit vir jou sal kan toedien sonder om die eed wat enige geneesheer moet aflê, te verbreek.

Marie ·

Duister dinge gaan aan as ‘n SAA vliegtuig klaarblyklik leeg na Europa vlieg, dit kos R 5mio of meer. Hiekom kon DHL of ander vlugte dit nie bring nie? Ek sal graag wil weet wie se geld miskien saamgevlieg het om in Europa in ‘n bank op te eindig.

Willempie ·

Nou waar is die mense wat so graag wou poseer met ontvangs van die eerste besending ????

Casper ·

Marie,klaarblyklik weet jy hoe die SAL werk.Wie sê die vliegtuig het leeg gevlieg.Daar kon passasiers aanboord gewees.Gelukkig het hulle entstof gekry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.