Tweede Clover-veiligheidswag sterf

JJ Cassanga. (Foto: Verskaf)

JJ Casanga, die veiligheidswag wat in Februarie erg deur stakende werkers by Clover aangerand is, is Dinsdag dood.

“Dit is met groot spyt en hartseer dat AfriForum se privaatvervolgingseenheid die afsterwe van JJ Cassanga bevestig. Cassanga het op Dinsdag 28 Junie by sy dokter se spreekkamers ineengestort,” het AfriForum se privaatvervolgingseenheid Woensdag gesê.

Cassanga is erg aangerand in dieselfde voorval wat gelei het tot die moord op Terrence Tegg tydens ’n gewelddadige staking by Clover se sakeperseel in Olifantsfontein op 17 Februarie vanjaar.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid staan vir Michele Bebbington, wat aan Tegg verloof was, asook die Cassanga-familie by tydens die verhoor van die vyf mans wat van Tegg se moord en Cassanga se aanranding aangekla word.

“Cassanga se familie sê hy het ernstige koptrauma en breinbeserings tydens die aanranding opgedoen en het sedertdien aan stuipe en hoofpyne gely. Cassanga het glo Dinsdag van erge hoofpyn gekla en het gevra om na sy dokter geneem te word. Hy het in die spreekkamers inmekaargesak en is dood verklaar,” lui die verklaring. Cassanga word oorleef deur vier kinders.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het ’n beroep op die polisie gedoen om ’n deeglike ondersoek te doen. “Ons wil hê dat ’n lykskouing gedoen word om vas te stel of daar voldoende bewyse is van ’n verband tussen die aanranding en Cassanga se uiteindelike dood. Ons betuig ons innige meegevoel met Cassanga se geliefdes, en ons sal voortgaan om die families van die oorledenes in hierdie saak te ondersteun.”

Die vyf mans wat van moord en aanranding beskuldig word, sal weer in die Tembisa-landdroshof verskyn vir ’n voortsetting van ’n borgtogaansoek vir drie van die beskuldigdes.

Sou die ondersoek na Cassanga se dood ’n verband tussen die aanranding en Cassanga se dood aandui, sal ’n tweede aanklag van moord die beskuldigdes in die gesig staar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Swerwer ·

Innige simpatie en meegevoel aan sy familie. Mag diè wat hom aangerand het, aangekla word vir moord en boet vir wat hul aan ander onskuldige mense doen.

Owlie ·

Die moordenaars us op video die wêreld vol gewys – neem hulle in hegtenis en vonnis hulle asook enige volgelinge of unies watvalles toe gelaar het sonder lang uit gerekte hofsake. Die bewyse is daar, niks meer is nodig nie

Nettie ·

Vier kinders nou sonder hul Pa oor die kultuur van geweld in hierdie land. Dis om van naar te word. Die arme familie. Dankie Afriforum, dat julle hulle help om geregtigheid te kry. Ek hoop Clover help ook waar hulle kan.

Maritza ·

Verstaan nie hoe mense wat moord pleeg borg kry nie maar Corrie van Groblersdal word dit geweier. Laat mens wonder…

Di ·

Hierdie spul monsters moet nooit weer die daglig sien nie! Maak ‘n voorbeeld van hulle. Solank daar vakbonde in die land is, sien ek GEEN TOEKOMS vorentoe nie

Koos 100 ·

Vakbonde het ook hulle plek, maar vakbonde wat nie hulle plek ken nie, dis die probleem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.