Tweede deel van Zondo-verslag Dinsdag ontvang

Waarnemende hoofregter Raymond Zondo. (Foto: Karen Sandison/African News Agency/ANA)

Die president se kantoor sal Dinsdag die tweede deel van die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping, korrupsie en bedrog se verslag onder oë kry.

Dié deel van die verslag sal aan die publiek bekendgemaak word kort nadat die sekretaris van die kommissie, prof. Itumeleng Mosala, die bevindinge aan Phindile Baleni, direkteur-generaal in die presidensie, voorgelê het.

Waarnemende hoofregter Raymond Zondo, kommissievoorsitter, het die eerste gedeelte van die verslag vroeër vandeesmaand aan pres. Cyril Ramaphosa oorhandig. Daarin word aanbeveel dat strafregtelike aanklagte teen sommige persone wat in die verslag genoem word, aanhangig gemaak word.

Verskeie ANC-lede word ook in die verslag by wangedrag betrek.

Die derde en finale deel van die verslag sal na verwagting op 28 Februarie aan Ramaphosa oorhandig word.

Tyrone Seale, waarnemende woordvoerder vir die president, sê soos vereis deur ʼn uitspraak van die Gautengse hooggeregshof op 28 Desember verlede jaar – en in ooreenstemming met die regstellende optrede vervat in die Openbare Beskermer se verslag van Oktober 2016 – sal Ramaphosa die volledige kommissieverslag teen 30 Junie by die parlement indien.

“Hierin sal die president sy voornemens met betrekking tot die implementering van die kommissie se aanbevelings ook bekend maak.”

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) en die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (Valke) het reeds die eerste gedeelte van die verslag bekyk met die oog op verdere ondersoek en die bou van sake vir kriminele vervolging teen diegene wat hulle aan staatskaping skuldig gemaak en die wet oortree het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Shakespeare ·

Ontvang…..gelees…..en daadwerklik opgetree ???? Ek koop 10 hoede om op te vreet as dit waar word.

domheks ·

Rama het dit aangevra, nou moet hy in rat kom om DAADWERLIK op te tree. Stop die kommissies en ander gemors en vervolg die mense! NVG moet nou ook wakker skrik. Ons land kan nie meer SKELMS bekostig ten koste van die armes nie.

Marius ·

Daar gaan niks van kom nie. Omtrent almal van die “elite” sal tronk toe gaan.

Esme ·

Regter Zondo het dag vir dag geluister na getuies en die name is openbaar gemaak. Ek wag egter steeds op arrestasies. Shakespeare – ek koop ook 10 hoede en ek en jy kan gerus op ‘n ‘hoede dieet’ gaan, want NIEMAND sal krimineel aangekla of vervolg word nie. Nie deur die ANC, die President of deur Regter Zondo nie. Sekere individue, organisasies en politici in die land is bo die reg en daarvan, kan ons nie wegkom nie.

Pietertjie ·

Oom Zondo moet bietjie stadiger: onse President is nog besig om die eerste uitgawe te probeer deurlees.

My siening ·

En nou wat nou Cyrel wat nou, gebeur daar iets, nee dit gaan geruisloos verby sê die man dan wat op sy swaard sal val vir die ANC! Ek kan maar net lag of huil dit pla niemand nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.