Tweede getuie geroep in saak teen vermeende verkragter

(Argieffoto)

ʼn Tweede persoon het Vrydag getuig in die vervolging van die vermeende verkragter Andile Memese.

Maroela Media het vroeër berig dat Celeste Gouws, ’n private vervolger, in September 2017 na bewering in haar huis verkrag is nadat sy vermoedelik bedwelm is. Die private vervolging, onder leiding van adv. Gerrie Nel, kom nadat die direkteur van openbare vervolgings (DOV) in die Oos-Kaap geweier het om vervolging teen Memese in te stel.

Hy pleit onskuldig op die aanklag teen hom.

Vroeër vandeesweek het Gouws getuig dat Memese herhaaldelik aangedring het dat sy saam met hom moet gaan bad. Beeldmateriaal wys ook hoe Memese in ’n stadium sy eie glas met Gouws s’n ruil, waarna sy binne minute onstabiel begin raak.

Gouws het getuig dat sy uiteindelik ’n vriend moes kontak om haar te kom geselskap hou by die gastehuis wat sy bedryf het, omdat Memese nie sy onvanpaste gedrag wou staak nie. Nadat die vriend Memese uitgesien het, wys die beeldmateriaal hoe die beskuldigde minute later weer die huis binneglip en Gouws uiteindelik na haar slaapkamer dwing.

Memese se regspan het vroeër aangevoer hulle het nie die videomateriaal onder oë gehad nie, maar Nel het bewyse aan die hof voorsien wat aangedui het dat die beeldmateriaal al twee keer aan Memese en sy regspan verskaf is. Uitstel is ieder geval toegestaan om sy regspan kans te gun om die materiaal te bestudeer.

Vandag het Gouws se voormalige buurvrou, Marita de Lange, getuig.

Volgens De Lange het sy die aand van die voorval ’n vrou hoor huil. Sy kon ook hoor hoe die persoon aanhoudend vra dat dit moet ophou.

De Lange het getuig sy het nie geweet wat om van die voorval te maak nie omdat die vorige inwoners glo baie raserig was. Sy het eers later uitgevind dat Gouws in die huis was en dié aand verkrag is.

Jacques Broodryk, AfriForum se veldtogbestuurder, sê as daar geluister word na die getuienis, is dit onverstaanbaar waarom die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) geweier het om Memese te vervolg.

“Die enigste afleiding wat ʼn mens kan maak, is dat daar onvanpas by die saak ingemeng is om Memese te beskerm. Dit is genoeg om ’n mens woedend te maak,” sê Broodryk.

Die saak is tot 25 Januarie volgende jaar uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Ovelia ·

Ek kry beslis nie 2 en 2 maak 4 nie. My goeie dinges. Jy kan verkrag en dan…..

Sonia ·

mag die waarheid hier seëvier en die betrokke regter regverdig oordeel en mag die waarheid oor die onbehoorlike inmenging om Memese te beskerm ook aan die lig kom, wie presies ingemeng het.

Ian ·

Hierdie tipe knoeiery gaan daadwerklik aangespreek moet word. Hierdis vrot appels moet van ontslae geraak word net soos wat gesien kan word hoeveel polisielede deel was van die gestelery die week.

Cherokee ·

‘n Belangrike vraag is, òf (soos Sonia ook sê) die verbuigers van die klag teen memese (klein letters soos dit moet) ook aangekla sal word.

Landras ·

Dit is die rede hoekom vrouens nie verkragting sake verder vat nie – hulle word so te sê kaal uitgetrek in ‘n hof . Dankie vir beeldmateriaal , mag geregtigheid geskied !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.