Tweede geval van Covid-19 in SA

Zweli Mkhize. Foto: Elmond Jiyane

Die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, het Saterdag bekendgemaak dat die tweede geval van die koronavirus, oftewel Covid-19, in Suid-Afrika aangemeld is. Dié keer in Gauteng.

“Die 39-jarige vrou is van Gauteng en was in direkte kontak met die pasiënt van KwaZulu-Natal wat vroeër met die koronavirus gediagnoseer is. Sy was deel van ʼn groep van tien mense wat na Italië gereis het,” sê Mkhize.

Mkhize sê sy departement het inligting oor en weet waar al tien lede van die toergroep hulle bevind. “Almal wat teruggekeer het van Italië is vir die virus getoets en ons wag nog vir die uitslae van die toetse. Hulle is ook reeds in isolasie geplaas om kontak met derde partye te verhoed,” sê Mkhize.

Die departement van gesondheid het Donderdag aangekondig dat ʼn 38-jarige man van Hilton in KwaZulu-Natal positief getoets is vir die virus. Hy, sy gesin en die dokter wat hom gediagnoseer het, is intussen in kwarantyn geplaas. Volgens die minister maak hy goeie vordering. Die laerskool waar sy twee kinders skoolgaan is ook sedertdien gesluit.

Mense in maskers loop verby die Duomo-katedraal in Italië (Foto: Luca Bruno, AP)

Mkhize sê die tweede pasiënt wat nou positief getoets het, sal onmiddellik opgeneem word in ʼn staatshospitaal wat reeds deur die regering geïdentifiseer is om pasiënte met die koronavirus te behandel. Hy het onderneem om die Suid-Afrikaanse publiek op hoogte te hou van die situasie.

Intussen het die Suid-Afrikaanse ambassade in Suid-Korea die regering ingelig dat ʼn 39-jarige Suid-Afrikaanse man wat tans daar werk ook positief getoets het vir die virus. “Hy was veronderstel om terug te keer na Suid-Afrika, maar bly nog aan in Suid-Korea,” sê Mkhize.

Hy sê die regering volg op met die regering in Suid-Korea om te bepaal waar die Suid-Afrikaner behandel word. “Ons vra intussen dat almal sal kalm bly en die privaatheid van die pasiënte en hul gesinne sal respekteer,” sê Mkhize.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Johan Venter ·

Tjeet tjeet …. Ja dis hoe dit nou by ons in die huis gaan, nie ek of my vrou kan nies nie, of die ander een gryp die kannetjie en … tjeet tjeet, spuit dit. Die herfs het mos nou aangebreek, dus voel mens by tye laat middag met die verandering in die seisoen maar effe sinusrig, dan is dit weer ‘tjeet tjeet’ tyd.

Johann ·

Ek is dood seker daar is al honderde gevalle in SA en glo ook nie dit is net een geval in Nigerië nie (ek was al in Lagos gewees). Ek hou grafieke op datum en vir die res vd wêreld is dit ekspononsieël en die volgende vergelyking vir die slimmes reflekteer die neiging (toename) nogal heel akkuraat tot op datum: 10.192*e^(0.1592*t). Nogal skokkend as mens vooruit gaan projekteer. Berei voor en bly weg van die groot winkelsentrums af.

Vriendelike Frikkie ·

Selfs met Corona onder lede het jy ‘n beter kans om aan een van SA se ander peste soos Vigs,TB, moord en gewone griep dood te gaan. SA-> 7 miljoen het vigs, 20 000 jaarliks vermoor en slegs 2 het Corona. Ek vat my kanse met Corona.

Corne123 ·

Hier kom sports hulle gin niks reg nie china se gavalle gaan soos n druppel in emmer lyk

Hennie ·

Nou kan die despoot ook sê hy doen ietsie… Aankondiger van Corona score…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.