Tweede Hertzogprys vir Nicola Hanekom

Nicola Hanekom (Foto: Grant Swanby )

Die veelbekroonde teaterskepper Nicola Hanekom se jongste dramateks, Mirre en aalwyn, is pas met die Hertzogprys vir drama bekroon, terwyl die digter Pieter Odendaal se bundel Ontaard as die wenner van die Eugène Marais-prys vir poësie aangewys is.

Dit is die tweede keer dat Hanekom die Hertzogprys wen, wat deur die Raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns toegeken word. Haar vorige drama, In glas, wat in 2018 by Protea Boeke verskyn het, is in 2021 met dieselfde prys bekroon.

Mirre en aalwyn word as ʼn plekspesifieke drama beskryf wat die aangrypende verhaal vertel van ʼn verlore dogter, Jessie, wat na haar ouerhuis terugkeer. Jessie het magiese idees en konfrontasie in haar hart. Tydens haar besoek ontdek haar familie dinge wat hul hare laat rys.

Met dié drama hou Hanekom ʼn spieël aan die samelewing voor oor uiteenlopende en netelige kwessies soos godsdiens, verkragting, bloedskande en aborsie. Sy ondersoek onder meer vrae wat verband hou met ongenuanseerde kommunikasie, en hoe die patriargale beskouing van godsdiens verander in ʼn wêreld waar tegnologie die magstryd wen en verafgod word.

“Jy kan nie verby die feit kyk dat ons almal al hoe meer generies met mekaar begin kommunikeer nie. Wanneer ons emotikons in die plek van woorde gebruik, is daar geen nuanse in die boodskap nie,” het Hanekom in ʼn onderhoud met Maroela Media gesê.

“Waaroor ons op die oomblik nie kan stry nie, is dat ons nie meer weet wat werklik is nie. Ons word vasgevang in die virtuele wêreld van ons selfone en in dit wat deur middel van algoritmes aan ons vertoon word.”

Die Hertzogprys word as die vernaamste prestigeprys in die Afrikaanse letterkundige wêreld beskou en word op aanbeveling van die Akademie se Letterkundekommissie toegeken. Dit word jaarliks om die beurt vir poësie, drama en verhalende prosa, in dié volgorde, oorhandig.

Ander wenners van die gesogte SA Akademiepryse, is prof. Heinrich van der Mescht, emeritusprofessor aan die Universiteit van Pretoria, wat die NP van Wyk Louw-medalje wen vir sy uitsonderlike bydrae tot die ontginning, organisasie en uitbouing van kunsmusiek in Suid-Afrika, en Zandra Bezuidenhout, wat die Elsabé Steenberg-prys vir vertaalde kinder- en jeugliteratuur wen. Bezuidenhout ontvang die prys vir Lampie, ʼn Afrikaanse vertaling van die Nederlandse boek deur Annet Schaap.

Antjie Krog en Ingrid de Kok, skrywers van Vetplantfeetjies, en Fiona Moodie, wat die illustrasies gedoen het, ontvang die Tienie Holloway-medalje vir kinderliteratuur. Vetplantfeetjies is ʼn versameling kinderryme en pragtige kunswerke oor inheemse vetplante wat ook feetjies is.

Die Akademiepryse sal in September by ʼn bekroningsplegtigheid in Pretoria oorhandig word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Casper ·

Nicola is so talentvol dat sy in enige rol sal in pas al maak sy my party maal die josie in maar sy is uitstekend.Geluk Nicola jy verdien dit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.