Tweede ineenstorting by Lily-myn

'n Lugfoto van die ineenstorting. Foto: JacarandaFM via Mpumalanga EMS

‘n Lugfoto van die ineenstorting. Foto: JacarandaFM via Mpumalanga EMS

Reddingsaksies by die Lily-myn in Barberton, Mpumalanga, moes Saterdagoggend gestaak word na ʼn tweede ineenstorting omstreeks 05:00 in die myn.

Vantage Goldfields het Saterdag in ʼn verklaring gesê alle soek-en-reddingspanne is veilig ontruim. ʼn Nuwe geotegniese evaluering moet eers gedoen word voordat reddingsoperasies kan voortgaan.

“Die toestande ondergronds by die Lily-myn is uiters onstabiel na ʼn verdere ineenstorting aan die suidelike kant van die oop put,” het Mike McChesney, uitvoerende hoof van Vantage Goldfields, gesê. “Ek kan nie nog verder tot hierdie ramp bydra deur die lewens van die reddingspanne in gevaar te stel nie.”

Die drie mynwerkers, Yvonne Mnisi, Pretty Mabuza en Solomon Nyarenda, is nou al meer as ʼn week lank ondergrond vasgekeer nadat ʼn gedeelte by die ingang van die myn verlede Vrydag ineengestort het. Altesaam 76 mynwerkers is dieselfde dag van die ineenstorting veilig uit die myn gebring.

Volgens die mynmaatskappy het die reddingspanne oor die afgelope 24uur aansienlik die tempo waarteen hulle rotse en puin verwyder, versnel voordat die tweede ineenstorting plaasgevind het. Internasionale spesialiste is na die Lily-myn ontbied en het bevestig die put-area is onstabiel, aangesien voortdurende grondbeweging waargeneem word.

Lees alle vorige berigte oor die Lily-myn op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

DPJ ·

Hoop om wasgekeerde myners lewend uit tehaal raak nou uiters kretiek.

Sterkte aan alle familie.

Corrie Barberton ·

Sterkte aan die 3 mense wat vasgekeer is se families en elke man van ons wat help met die soektog. Laat my nou net meer besef hoe gevaarlik dit is vir ons manne (vroue)wat onder grond werk.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.