Tweede kans vir jong man danksy ma se nier

Diei 23-jarige Shaun Phelan, sy suster, Christine en ma, Sharon. (Foto: Verskaf)

Die laaste paar jaar was ʼn opdraande stryd, maar dié gesin van Stanger in KwaZulu-Natal hou vas aan die geloof dat dinge binnekort sal beter gaan.

Die 23-jarige Shaun Phelan, ʼn elektriese vakleerling, het in Januarie 2020 gehoor dat chroniese nierversaking by sy pa, ook Shaun, gediagnoseer is.

Net drie maande later het hy uitgevind dat sy eie nierfunksie minder as 4% is. Vir sy ma, Sharon, en die gesin was die nuus dat haar man van meer as 24 jaar én haar seun ewe moeilike uitdagings te bowe sal moet kom, ʼn bitter pil om te sluk.

“Ek het toegekyk hoe my diabetiese man, wat altyd aktief was, ʼn omleiding ondergaan, toe dialise, waarna hy heeltemal afhanklik van ʼn rolstoel was. Toe word Shaun siek, ʼn reuseskok, omdat hy nog altyd baie gesond was,” sê Sharon.

Die 55-jarige Shaun snr., ʼn opgeruimde en vrygewige man, is op 5 Oktober verlede jaar weens nierversaking dood. Weens sy gesondheidsprobleme het hy nie vir ʼn oorplanting gekwalifiseer nie.

Shaun snr. is verlede jaar weens nierversaking dood. (Foto: Verskaf)

In die afwesigheid van sy pa, vir wie Shaun bitter lief was, is hy meer vasbeslote as ooit om die diagnose te bowe te kom en gesond te word.

In hierdie stadium ondergaan hy drie keer per week dialise van tot ses uur lank.

Sharon het besef Shaun se enigste kans op ʼn normale en gesonde lewe is om so gou moontlik ʼn nieroorplanting te ondergaan. Sy het aangebied om getoets te word en dalk ʼn skenker vir haar seun te word.

Ná etlike toetse was daar goeie nuus: Sharon is ʼn geskikte skenker.

“Ek is so gelukkig dat ek ʼn skenker vir my seun kan wees omdat dit beteken dat hy die oorplanting vinniger kan kry en nie hoef te wag vir ʼn geskikte skenker om gevind te word nie. Ek hoop die oorplanting is ʼn sukses sodat hy sy droom kan uitleef en nie teruggehou word soos wat nou die geval is nie,” sê sy.

Danksy Shaun se ma se wonderlike geskenk, wag ‘n tweede kans op ‘n gesonde lewe op hom. (Foto: Verskaf)

Die nieroorplanting sal na verwagting op 23 Junie by die Netcare St. Augustine-hospitaal gedoen word en die gesin het ʼn BackaBuddy-veldtog begin om dié uitgawe wat nie deur hul mediese fonds gedek word nie, te betaal. Dit sluit in Shaun se vervoer en lewenskoste voor en ná die oorplanting.

Tot dusver het 43 skenkers al ʼn gesamentlike R64 000 vir hom geskenk.

“Die goedhartige skenkings en woorde van ondersteuning wat ons as gesin ontvang is vir ons ʼn reddingsboei. Ons het die afgelope twee jaar vele hindernisse moes oorkom – ons moes onlangs ons huis weens die oorstromings in Durban verlaat – maar ons hoop en glo dat met Shaun se oorplanting ons geluk sal begin verander.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Di ·

Sjoe dit is tragies dat 2 lede van een gesin hierdeur geraak is. Sterkte aan die familie, hoop dat als goed sal afloop.

Miena ·

Bitter jammer om van julle verlies te verneem en die slegte nuus wat die seun getref het met diagnose. Aan die ander kant is dit goeie nuus dat Ma kan help, en seun kan behandel word. Dit is vir sulke redes hoekom ek n orgaan skenker is. Ek en my gesin is almal orgaan skenkers. Baie dankie Ma dat jy (alweer) n stukkie van jou liggaam opoffer vir jou kind. Is dit nie maar wat ons as ouers doen nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.