Tweede kans vir skilpad ná amputasie

Maia die skilpad ná die operasie (Foto verskaf deur Saambr via ANA)

ʼn Jong groenskilpad het vandeesweek ʼn suksesvolle amputasie ondergaan ná sy gestrand en toegewikkel in plastiek op ʼn strand in die noorde van KwaZulu-Natal gevind is.

Die skilpad, wat Maia (“dapper” of “braaf” in Māori) gedoop is, is ongeveer 1 km noord van Bhanganek, naby die Mosambiekse grens, aangetref. ʼn Stuk plastiek was om haar voorste linkerpoot gewikkel.

Ná Maia gevind is, het Santosh Bachoo, ʼn KwaZulu-Natalse ekoloog, haar na die uShaka Marine World-skilpadrehabilitasiesentrum geneem. Hy het 14 uur oor die provinsie gereis om die beseerde skilpad veilig af te laai.

Ann Kunz van die Suid-Afrikaanse vereniging van mariene biologiese navorsing (Saambr)-tak in Durban, het gesê die skilpad het moeg gelyk toe sy by uShaka aangekom het. “Ons het vloeistowwe toegedien, ʼn groot deel van die plastiek verwyder en haar vir die nag laat rus. Dit was duidelik dat sy die volgende oggend ʼn operasie moes ondergaan omdat sy 65% van haar swempoot verloor het weens die skade wat die stuk plastiek aangerig het,” het Kunz Dinsdag in ʼn verklaring gesê.

Volgens Malini Pather, senior kwarantyn-akwaris by uShaka, was Maia se poot “heeltemal nekroties” en die skilpad was vermoedelik lank in die plastiek vasgekeer voor sy gered is.

“Skilpaaie is egter ongelooflike taai skepsels en hulle kan maklik met drie swempote aanpas,” het Pather gesê.

Kunz het gesê Maia het tekens van infeksie getoon en is op twee kursusse antibiotika geplaas om haar te help om aan te sterk.

Die skilpadjie sal nie alleen wees nie, omdat die rehabilitasiesentrum twee ander skilpaaie het wat ook net drie swempote het, naamlik Tripod en Shelley. Volgens Kunz is Tripod al twee jaar by die sentrum en het baie vordering gemaak. Tripod sal na verwagting volgende week by Cape Vidal vrygelaat word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pieter ·

Dankie aan almal wat gehelp het. Sterkte skilpad. Tyd dat daar minder besoedelaars op aarde kom.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.