Tweede man sterf ook ná vliegtuig val

Talle paramedici op die toneel kort nadat die vliegtuig geval het. Foto: Verskaf

Andrew Gooderham (24), een van die mans wat in die ligte vliegtuig was wat Woensdag buite Bethlehem in die Vrystaat neergestort het, het gesterf.

Isolde Laesecke, voorsitter van AfriForum se Bethlehem-tak, het aan Maroela Media bevestig Gooderham is net ná 04:00 vanoggend oorlede. Net ure vantevore het John Jacobs (53), die ander insittende in die vliegtuig, ook in die Netcare Milpark-hospitaal in Johannesburg aan sy wonde beswyk.

Laesecke het gesê die plaaslike gemeenskap is geruk deur die mans se dood.

Maroela Media het vroeër berig Gooderham en Jacobs was op pad om ʼn landbou-opname te doen toe die vliegtuig opgestyg het. Volgens omstanders het die vliegtuig net in die lug in die regte rigting gedraai voor dit neergestort het.

Foto: Verskaf

Laesecke het vroeër gesê die vliegtuig het aan die brand geslaan nadat dit die grond getref het. Omstanders het nader gehardloop met brandblussers en die twee insittendes kon daarin slaag om uit die vliegtuig te kom en te rol om die vlamme te blus.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê by paramedici se aankoms op die toneel was die twee mans in ʼn ernstige toestand. Hulle is op die toneel behandel en na ʼn nabygeleë hospitaal geneem waar hulle geïntubeer is. Hulle is daarna per mediese helikopter na die hospitaal in Johannesburg geneem.

Kabelo Ledwaba, woordvoerder van die Burgerlugvaartowerheid (BLO), het gesê ʼn ondersoekspan is aangewys om die ongeluk te ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Annie ·

Sterkte aan al die families en vriende, dis baie hartseer maar ek glo dis die beste vir hulle.
Hulle sal nou geen meer pyn en lyding he nie. RIV.

Ander Annie ·

Innige simpatie aan die bedroefde families. Dit is baie hartseer. Ons dink aan julle in ons gebede

Jannie ·

Gegewe al die vlieg-ongelukke in die land, betwyfel ek werklik die standaarde van opleiding wat hedendaags gebied word en of dit vir Burgerlugvaart aanvaarbaar is!!!

Chris Ws ·

Jannie,die standaard wereld gehalte glo my.En die aantal vliegtuig ongelukke nie eers ‘n druppel in die emmer in vergelyking met motor ongelukke nie.Vliegtuie MOET met vasgestelde tye /vlug ure gediens word deur ‘n maatskappy wat deur Burger Lugvaart aangestel is.Niemand word gedwing om sy motor te diens nie.Vlieeniers MOET ‘n sekere aantal uur vlieg per jaar om hul lisensie geldig te hou.’n Motoris kan heel jaar by die huis bly sonder dat dit sy lisensie se geldigheid affekteer.Vlieeniers MOET elke jaar sy vlieg medies slaag.Geen motoris word verplig om ‘n mediese ondersoek te slaag elke jaar nie.Wys my ‘n motoris wat sy motor voor hy erens heen ry ondersoek van voor tot agter soos wat ‘n vlieenier doen.Vlieg is myle veiliger as ‘n motor rit op ENIGE pad in ons land.

carnett ·

Ek stem 100% sam Chris!
Ek het selfs Vieeniers in my Familie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.