Tweede NMU-student glo ook verkrag

Die Suid-kampus van die NMU. Foto: NMU.

ʼn 29-jarige man sal Vrydag sy eerste verskyning in die Port Elizabeth-landdroshof maak nadat hy glo twee studente van die Nelson Mandela Universiteit (NMU) verkrag en beroof het.

Massa-protesoptogte word buite die hof verwag. Die man is Woensdag omstreeks 15:00 in Govan Mbekilaan in hegtenis geneem ná twee dae lange betogings waar studente onder meer strenger veiligheidsmaatreëls  by alle NMU-kampusse geëis het. NMU het sedertdien heropen.

Die verdagte is vasgetrek toe hy glo die rekenaar wat tydens die voorval gesteel is, probeer verkoop het. Een van die studente se selfone is glo ook in sy besit gevind.

Maroela Media het vroeër berig ʼn 25-jarige student en haar vriendin is Maandagaand in die rekenaarsentrum van die universiteit se Tweede Laan-kampus aangeval. Die studente is met ’n skêr gedreig en van hul selfone en beursies beroof. Daar is aanvanklik berig dat net een van die studente verkrag is, maar dit het intussen aan die lig gekom dat albei verkrag is. Een van die studente is ook met die skêr gesteek.

Die vreesbevange vroue is toe gedwing om ʼn rekenaarboks en skerm na buite te dra. Die aanvaller het die vroue gedwing om vir hom die gesteelde goedere oor die heining aan te gee voordat hy gevlug het.

Foto’s van die verdagte is op sosiale media rondgestuur. Hy het ʼn oranje hemp, hoed en handskoene aangehad volgens die foto wat ʼn skermgreep blyk te wees van kringtelevisiebeeldmateriaal.

Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, het gesê die verdagte staan tereg op twee aanklagte van verkragting, roof en huisbraak. Volgens Naidu kan daar moontlik later nog aanklagte bygevoeg word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

G ·

Hulle soek strenger veiligheidsmaatreëls in plek, maar hoe gaan dit enige iets voorkom? Dis ‘n tekort aan respek vir mekaar wat die groot oorsaak is van baie dinge. En ek glo nie om respek aan hul kinders te leer, is hoog op die meerderheid se prioriteitslysie nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.