Tweede outopsie dui op oorsaak vir Jhb-man se dood

Edward Blonski. Foto: Facebook

ʼn Tweede nadoodse ondersoek wat gedoen is nadat die liggaam van Edward Blonski (32) op 11 Julie in ʼn dam by die dieretuinmeer in Johannesburg gevind is, het meer lig gewerp op die oorsaak van die argitekstegnoloog se raaiseldood.

Jacqueline Wijtenburg, Blonski se niggie, het vroeër aan Maroela Media gesê die familie het ʼn private patoloog aangestel om ʼn tweede nadoodse ondersoek te doen nadat die uitslag van die eerste nadoodse ondersoek onbeslis was weens die gevorderde ontbinding van die liggaam. “Ná die tweede outopsie gedoen is, dui die bewyse daarop dat Edward verdrink het,” het Wijtenburg gesê.

“Dit is onmoontlik vir die forensiese patoloog om te bepaal wat veroorsaak het dat hy verdrink het. Ons sal waarskynlik nooit weet nie en sal met tyd daarmee vrede maak. Die polisie se ondersoek duur steeds voort en ons wag op hul volledige verslag. Daarna sal die howe ʼn geregtelike doodsondersoek doen wat dalk, of dalk nie, nog antwoorde aan die lig kan bring.”

Maroela Media het vroeër berig Blonski het op 24 Junie in Parkview, Johannesburg, vermis geraak. ʼn Grootskaalse soektog is van stapel gestuur en beeldmateriaal van veiligheidskameras het later gewys hoe Blonski sonder skoene om die dieretuinmeer draf. Sy liggaam is op 11 Julie deur verbygangers in ʼn dam by die dieretuinmeer gevind. Daar was geen sigbare beserings aan sy liggaam nie omdat dit reeds in ʼn gevorderde stadium van ontbinding was.

Blonski se begrafnis is Woensdag in die Holy Trinity Katolieke Kerk in Braamfontein gehou. Volgens Wijtenburg was daar ʼn groot groep van sy familie en vriende om hom finaal te groet.

“Edward was vir ʼn hele paar jaar ʼn vrywilliger by ʼn gemeente-sopkombuis wat kos aan haweloses gee. Priester Matthew Charlesworth het in sy huldeblyk vertel van Edward se onvergeetlike goedheid aan die mense wat hy bedien het. Soveel so, dat 12 van die hawelose mans en vrouens aan hom gesê het hulle het soekgeselskappe georganiseer om na hom te soek toe hulle einde Junie uitgevind het hy word vermis,” het Wijtenburg gesê.

“Daar is niks verder wat ons nou met die publiek kan deel nie en ons sal nou met ons reis van private genesing begin.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Afrikaanse Knaap ·

Dis ‘n hartseer storie.
Baie sterkte aan sy familie en almal wat vir hom life was.

Johan. H. ·

MM werwyder elkekeer my insetesl, Baie sterkte aan die familie wat die stukke moet optel,,, hartseer ,,, Dagvaar die eerste persone wat swak otopsie gedoen het.,,,

Basjan ·

Johan. H. Jy lees die berig nie mooi en aandagtig deur nie. Die tweede outopsie het nie veel meer opgelewer as die eerste een nie, omdat die liggaam in ‘n gevorderde stadium van ontbinding was. Al wat verander het is dat hulle gevind het dat die persoon verdrink het, maar kon nie die oorsaak van verdrinking vasstel nie. Ek kan nie sien dat dit ‘n doel gaan dien om “die eerste persone wat die outopsie gedoen het” te dagvaar nie.

Lea ·

Ja MM is vol nonsens, my goed word selde geplaas. En dis NIE omdat ek iets verkeerd se of doen nie, ekt al baie kommentare gelees wat vir my nie reg klink nie,maar nou ja…kom ons kyk of DIE geplaas gaan word… :((

Elize Swanepoel ·

Dis so hartseer. My innige simpatie aan sy familie, vriende en geliefdes.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.