Tweede polisiebeampte in soveel dae vermoor

(Foto: SA Polisie)

ʼn Tweede polisiebeampte is dié naweek in Kwaggafontein in Mpumalanga dood nadat hy en kollegas gisteraand op ʼn kaping gereageer het.

Konst. Thabo Mdluli en nog twee polisielede was op patrollie op die R573 naby Vlaklaagte toe hulle langs die pad op ʼn Toyota Corolla met sy noodligte aan afgekom het, het kol. Brenda Muridili, polisiewoordvoerder, gesê.

Die drie beamptes het die voertuig genader waarna dit weggejaag het.

Die polisielede het die motor in ʼn jaagtog agternagesit totdat die Toyota ná ʼn paar kilometer stilgehou het. “Een van die insittendes het uitgeklim en op die polisie losgebrand.

“Die polisie het teruggevuur, maar Mdluli is getref,” het sy gesê.

Terwyl sy kollegas Mdluli se lewe probeer red het, het sommige van die verdagtes te voet verder gevlug.

ʼn Oorblywende insittende het aan die polisie gesê die verdagtes wat gevlug het, het hom as gyselaar aangehou nadat hulle sy motor gekaap het. Hy beweer die drie verdagtes was in ʼn wit motor met ʼn blou lig op. Dié voertuig het glo kort ná die kaping vertrek. Voordat die verdagtes met hom verder kon ry, het die polisie opgedaag, het die man gesê.

Die polisie het sy 72 uur-aktiveringsplan in werking gestel om na die aanvallers te soek.

Die nasionale polisiekommissaris, genl. Khehla Sitole, het sy medelye teenoor Mdluli se gesin betuig.

“Ons moet alles moontlik doen om dié mense wat hulle as polisiebeamptes voordoen en niksvermoedende, wetsgehoorsame burgers kaap, aan te keer.

“Hulle moet in hegtenis geneem en vervolg word vir die dood van ons kollega, asook die kaping,” het Sitole gesê.

Maroela Media het gister berig ʼn KwaZulu-Natalse polisiebeampte is Vrydagaand dood toe minstens twee mans hom by sy huis ingewag en op hom losgebrand het.

Konst. Xolani Zulu (32) het Vrydag teen 19:30 by sy huis in KwaNyuswa opgedaag. Hy was nie aan diens nie. Die verdagtes het met vermoedelik ʼn geweer en ʼn handwapen op hom losgebrand. Hy is op die toneel dood.

Zulu, ʼn getroude man met drie jong kinders, was verbonde aan die KwaNdengezi-polisiestasie en is al agt jaar lank ʼn polisiebeampte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
capie

My simpatie aan beide slagoffers se naasbestaandes. Hul probeer hul bes met die misdaad wat lankal handuit geruk het en dan soek en dreig die hooggeagte minister met sigarette.

Scalla

Tragies, misdaad en moord het handuit geruk te danke aan huidige wetstoepassers

Awie

Die vermoee om te beskerm, te dien en dan nou om te vertrou is teleurstellend laag