Tweede SA tiener wou by IS aansluit

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Tweede tiener van Kaapstad is verlede maand deur staatsveiligheidsdienste verhoed om by die Islamitiese Staat (IS) aan te sluit, het David Mahlobo, minister van staatsveiligheid, Dinsdag bevestig.

“Ja, ons weet van die tiener,” het Mahlobo gesê op African News Agency se vraag oor ʼn hoërskooldogter van Grassy Park. Sy is by Kaapstad Internasionale Lughawe aangekeer nadat die departement ʼn wenk ontvang het. “Die goeie ding is dat ons optree voor hierdie dinge gebeur. Daar is sekere gemeenskappe wat geteiken word.”

Die departement en die Valke het glo reageer op inligting wat ʼn 15-jarige meisie van Kenwyn verskaf het. Maroela Media het vroeër berig die meisie het erken dat sy van plan is om by die IS van Irak en Sirië aan te sluit nadat sy op Paassondag van ʼn vliegtuig, van Kaapstad onderweg na OR Tambo Internasionale Lughawe, verwyder is. Die meisies is glo vriendinne en die tweede tiener het 10 dae later probeer om die land te verlaat.

Bewysstukke wat in die eerste tiener se kamer gevind is, dui daarop dat sy ʼn paar duisend rand uit ʼn plaaslike rekening oorgeplaas het en dat sy op sosiale media met IS-werwers in kontak was. Sy kom uit ʼn welgestelde familie.

Mahlobo het sedertdien ouers herhaaldelik gemaan om hul kinders se internetgebruik dop te hou. Hy het Dinsdag weer die waarskuwing tydens ʼn perskonferensie voor die minister se begrotingsdebat in die parlement uitgereik.

“Ons weet dat die IS jongmense teiken en die internet daarvoor gebruik,” het Sonto Kudjoe, direkteur-generaal van staatsveiligheid, gesê.

Intelligensiebronne sê egter hulle ondersoek ʼn fisiese teenwoordigheid van werwers van die jihad-groep in die land.

Mahlobo het gesê staatsveiligheidsagentskappe is baie paraat oor die kwessie van werwing deur fundamentalistiese groepe en hulle bly in kontak met gemeenskappe wat as teikens beskou word. Hy het gesê sedert die tiener van Kenwyn gepoog het om by die IS aan te sluit, het verskeie gemeenskapsgroepe sy departement gekontak om te sê dat hul kinders aangehits word om dit ook te doen. “In Kaapstad het ons met die Moslemregsraad vergader. Talle persone het vir ons gesê hulle wil al doodgaan oor die stilte, hulle kinders word daagliks gewerf.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.