Tweede slag vir Puk-jool ná ontploffing

Rook kan ná die ontploffing van vêr in die dorp gesien word. (Foto: Facebook)

Die jaarlikse vuurwerkvertoning op die Noordwes-Universiteit se joolplaas in Potchefstroom is gekanselleer nadat van die vuurwerke Vrydagoggend ontplof het.

Die vertoning sou deel vorm van die Pukke se joolvieringe.

Louis Jacobs, woordvoerder van die universiteit, het aan Maroela Media gesê werknemers van ’n maatskappy was besig om vuurwerke vir vanaand se vertoning op die joolplaas op te stel toe van die vuurwerke ná 11:00 ontplof het.

Die bus nadat die brand geblus is. (Foto: Facebook)

Die ontploffing is vermoedelik veroorsaak deur die opbou van statiese elektrisiteit.

Die vertoning vind elke jaar op dié Vrydagaand plaas, waartydens die vuurwerke vooraf op ’n afgesonderde deel van die joolplaas opgestel word.

Die ontploffing het daartoe gelei dat ’n bussie waarin die vuurwerke gebêre was aan die brand geslaan het. Die brand is kort daarna deur die universiteit se brandweerdiens geblus.

Volgens Jacobs is drie werknemers van die maatskappy Fireworks for Africa in die voorval beseer, van wie een ernstige beserings aan sy hande opgedoen het. Geen student was naby toe die vuurwerke ontplof het nie, verseker Jacobs.

Die bus nadat die brand geblus is. (Foto: Facebook)

Erasmus Esterhuizen, hoof van bemarking en korporatiewe identiteit vir JOOL, werk die joolkomitee tans saam met die polisie om die joolplaas veilig te verklaar sodat vanaand se vertonings en Saterdag se vlotoptog kan voortgaan.

Dit is die tweede slag vir die Pukke se joolvieringe nadat ʼn stormwind Donderdagaand ʼn biertent op die joolplaas omgewaai het.

Maroela Media het vroeër berig nege mense is in die voorval beseer. Honderde mense het in die tent teen die reën geskuil. Video’s van die tent wat omwaai, is wyd op sosialemediaplatforms gedeel.

Die joolplaas is Donderdagaand ná die voorval ontruim.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Anet ·

Ek stem saam. Studente is nie meer kinders nie! Vuurwerke is ‘n euwel! Hulle dink nie aan die arme diere wat verwilder word nie.

Adri ·

So, die joolplaas is vanaand ná die voorval ontruim, maar dit is nou nog middag.

Megan Swart ·

Dagsê Adri
Dit was inderdaad ‘n fout – dit moet natuurlik Donderdagaand wees. Die artikel is gewysig.
Dankie! Groetnis
Megan
nms Maroela Media

Christo ·

Was dit dieselfde company wat verlede jaar se vuurwerke aamgebied het of ‘n nuwe een?

Nefie ·

Goed so dis ‘n vuurwerk probleem, nie rêrig ‘n jool probleem nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.