Tweede slag vir Stella

polisie-huisroof-crime

Argieffoto: SAPD/Facebook

Die liggaam van ʼn man is op die gholfbaan by Stella in Noordwes aangetref, skaars twee weke ná die moord van twee tienermeisies dié dorp geruk het.

Die naam van dié klein plattelandse dorpie was onlangs oral in die media te lees toe Sharnelle Hough (17) en Marna Engelbrecht (16) in hul skoolkoshuis op die dorp vermoor is.

Lt.kol. Adele Myburgh, woordvoerder van die polisie, het gesê iemand, dit is in dié stadium nog onduidelik wie, het omstreeks 14:00 Woensdag op ʼn 68-jarige man se liggaam afgekom in die veld op die gholfbaan.

“Die man het ʼn skietwond aan sy kop gehad. Daar is ’n vuurwapen op die toneel aangetref en die polisie vermoed in dié stadium geen gemene spel nie,” het Myburgh gesê.

Volgens haar is die man se naasbestaandes reeds in kennis gestel van sy dood, maar is die formele uitkenningsproses nog nie afgehandel nie.

Die polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek.

Myburgh het bevestig dat die man geen verwantskap met Hough en Engelbrecht het nie. “Hulle is nie familie of eens kennisse van mekaar nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Nettie ·

@Brain – wat gaan aan IN DIE LAND???? Jy hoor net van moord en doodslag. ‘n Pa skiet sy seun, twee dogters en daarna homself dood – depressief a.g.v. werkverlies en swaarkry. Twee tienerdogters word op ‘n plattelandse dorpie om onverklaarbare rede doodgewurg in hul koshuis. ‘n Pa skiet sy seun ‘per ongeluk’ dood na die kind aan die motorvenster klop ná aandklasse nadat hy gedink het hy word aangeval.

Lyk my, in hierdie land en in vandag se dae kan mens, as jy bevoorreg is om in die oggend ongeskaad wakker te word, net sê; “Dank Vader!”. Die land, sy mense, die wêreld is besig om dit te verloor!

PTA ·

Maak asseblief seker van julle feite… Die Oom was verseker nie 48 nie…..

Tania Heyns ·

Dagsê PTA

Dankie vir jou kommentaar. Die inligting soos in die berig vervat is direk soos Maroela Media dit by die polisie ontvang het.

Groetnis
Tania nms Maroela Media

Fj ·

Die man is defenetief nie 48jr oud nie. Dit is baie hartseer. Sterkte aan die familie.

Anoniem ·

Hoe plaas mens ‘n berig as jou feite nie reg is nie. Kry die regte feite by die regte mense, moenie net berigte plaas vir sensasie nie want dit is hoe dit vir my lyk. PTA is doodreg, dit is nie sy ouderdom nie. Asb net soos met die 2 meisies ook was daar verskillende stories. Moenie inligting net by “random” persone kry en hoop dit is reg nie.

Ouderdom ·

Jy kan klaarblyklik nie lees nie; die inligting is direk van die polisie afkomstig.

MS ·

Ag jinne! Hou tog net op hare kloof oor onbenullige twak soos ouderdom!

Stella inwoner ·

Ons woon op Stella. Hy is nie 48 nie. In omtrek v 70. Een van die goedhartigste mense van ons dorp. Dit is nie lekker nie.

Tania Heyns ·

Dagsê lesers

Baie dankie vir julle kommentaar. Die ouderdom soos oorspronklik in die berig vervat (48), soos Maroela Media dit van die polisie af ontvang het is foutief. Ons het weer die inligting opgevolg met die polisie en die man was inderdaad 68. Ons vra groot om verskoning vir die fout, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Tania nms Maroela Media

Vergewe ·

Baie hartseer… Jammer vir die familie en vriende. Stella is so ‘n klein dorpie, so almal ken vir almal, maar dis onnodig om Maroela aan te val en so “rissiepit” te wees. Ek dink nie dit is met opset gedoen nie. Dit gaan immers oor die persoon, sy ouderdom was net ‘n foutjie aan die “Polisie” se kant. Die lewe is kort, leef en laat leef…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.