Tweede terugslag vir Limpopo-vrou ná malaria-diagnose

Marthie van den Heever (Foto: Verskaf)

ʼn Vrou van die Soutpansberg-omgewing in Limpopo is onlangs deur ʼn dubbele terugslag getref toe sy eers met malaria in die hospitaal opgeneem is, en toe, nadat sy ontslaan is, vir nog ʼn ernstige mediese toestand behandel moet word.

Marthie (55) van den Heever, ʼn pensioenaris, sit boonop nou met groot mediese rekeninge weens die onverwagse terugslag in haar gesondheid.

Van den Heever se dogter, Letisha Vos, sê haar ma is vroeër vandeesmaand onverwags met malaria gediagnoseer. “Dit gaan maar sleg,” sê Vos. Sy vertel dat die mediese behandeling derduisende rand beloop en dat van dié bedrae steeds uitstaande is.

Van den Heever is op 18 Maart vir die eerste keer opgeneem vir malaria met ʼn baie hoë parasiettelling. Omdat sy nie aan ʼn mediese fonds behoort nie en slegs beperkte fondse beskikbaar was om haar in die hospitaal te behandel, is sy ontslaan om verdere behandeling tuis te kry.

“Ek het een dag by my ma se huis aangekom en sy was verskriklik bleek en wou glad nie eet nie. Ons is toe dadelik weer dokter toe, en moes weer ʼn deposito betaal en ʼn fooi per dag vir elke dag wat sy in die hospitaal bly. Later het die dokters uitgevind dat sy nie meer malaria het nie, maar dat sy erge inwendige bloeding het,” het Vos gesê.

Van den Heever moet nou vir verskeie bloedoortappings gaan om haar bloedtelling te herstel. Die dokters weet tot dusver nie hoe die bloeding ontstaan het nie.

Vos sê haar ma is Saterdag in die hospitaal opgeneem en het Sondag ʼn bloedoortapping ontvang, maar sy het reeds weer bloed verloor. Sy is Maandag weer ontslaan.

“Dit is ʼn bietjie moeilik in dié stadium, dis hoekom ek maar mense vra om te help,” het Vos gesê. “Ons weet nie wat in dié stadium aan die gang is met my ma nie, haar parasiettelling is 0, maar sy verloor baie bloed. Ná die behandeling vir malaria was sy nog nooit weer heeltemal gesond nie. Ons weet nie waarheen haar bloed gaan nie, en as gevolg van beperkte fondse is dit nie tans moontlik om verdere toetse en konsultasies asook gereelde bloedoortappings te laat doen nie,” sê Vos.

“Ek is so dankbaar vir almal wat ons reeds bygestaan het. Ons is ook baie dankbaar teenoor ons hemelse Vader dat Hy haar so behoed en bewaar die afgelope tyd. Elke keer wat my ma in die hospitaal moes oorslaap, het ek ook daar geslaap. Daar was altyd mense wat koffie en kos aangedra het. Ek waardeer dit so baie. Ek hoop mense sal aanhou om ons by te staan,” het sy gesê.

Om ʼn bydrae te maak whatsapp Letisha by 071 676 4873, bel haar by 076 209 7758 of stuur e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Veronica ·

Die berig raak my vandag diep . . .
My eie Moeder van 75 het 2 weke terug skielik bloeding ervaar en met geen medies of spaargeldjies nie en net inkomste van SASSA het ek haar ook Dr toe gehaas . . .
n Paar toetse later wat ons kontant kon doen moet sy Steve Biko toe vir n scope , maar hulle is so vol bespreek by Urologie dat 1ste afspraak eers in Julie kan wees wat ek wel geboek het! Intussen verloor sy ook bloed daagliks en Dr het yster pille voorgeskryf.
So wat doen mens nou?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.