Tweede tragedie tref gesin ná dogter van perd val

Rachel Wepener voor die ongeluk. Foto: Facebook.

ʼn Gesin van Delmas in Mpumalanga wie se lewens in 2016 onherroeplik verander het nadat Rachel Wepener, toe 17 jaar oud, van haar perd af geval en haar nek gebreek het, is vandeesweek deur ʼn tweede tragedie getref.

Theresa Wepener (46), Rachel se ma, is Woensdagoggend omstreeks 08:30 in die gesin se huis oorlede.

Ben Wepener, Theresa se man en Rachel se pa, het aan Maroela Media gesê sy vrou het fase 4 serviks-, long- en limfklierkanker gehad. Sy moes op 11 November verlede jaar by haar werk bedank omdat sy nie meer die werk kon volhou nie.

Ben vertel die gesin gaan deur diep waters sedert Rachel, nou 19 jaar oud, op 11 September 2016 in ʼn fratsongeluk met haar drie jaar oue merrieperd, Mia, betrokke was. “Mia het haar balans verloor en geval met Rachel agterna. Rachel het op haar regterheup geval, toe haar skouer en toe haar kop die grond tref, het sy haar nek gebreek presies waar die rugwerwels die skedel ontmoet. Die breinstam is erg beskadig,” het Ben gesê.

Rachel was aanvanklik vir sowat twee weke in ʼn koma en daarna lank onder verdowing. Sy is uiteindelik na die Netcare Aucklandpark- rehabilitasiehospitaal oorgeplaas en op 5 Januarie 2017 is sy huis toe gestuur om daar aan te sterk.

Ben vertel Rachel dra nou doeke en moet gevoer word. Voor die ongeluk was Rachel ʼn kranige atleet en perderuiter. Sy het in 2015 die President-perdryspan gehaal en het in 2015 en 2016 Gauteng-skole verteenwoordig op die Suid-Afrikaanse atletiekkampioenskap. Sy was ʼn leerder aan die Hoërskool Kemptonpark.

Ben vertel dat Theresa nog tot haar laaste gehelp het om Rachel te versorg. Rachel besoek nou slegs een keer per maand die rehabilitasiesentrum vir ʼn assessering.

Rachel ná die ongeluk. Foto: Facebook.

“Die medies betaal nie meer vir ʼn versorger [soos in 2017] nie. Ek betaal nou uit my sak daarvoor. Ons sal baie graag nog ʼn versorger wil aanstel om na Rachel om te sien en ook dat sy meer by die rehabilitasiesentrum uitkom en met die toerusting wat hulle daar het oefen.”

Hy sê die gesin se mediese onkoste beloop al sowat R1,7 miljoen.

Volgens Ben is hy wel positief oor Rachel se herstel. “Daar is definitief al verbetering. Sy het al deels die gebruik van haar linkerkant herwin en ons kan sien die regterbeen en -arm begin so stuk-stuk herstel,” sê hy.

“Dit was my vrou se droom om te sien dat Rachel weer loop en praat. Sy het geveg vir haar dogter.”

Die gesin kommunikeer met Rachel deur middel van ʼn bord wat hulle vir haar gemaak het met die alfabet op. “Sy het gister vir my gespel ‘asseblief moenie my los nie’. Sy is nou bang ek verlaat haar en sy wonder wie gaan na haar kyk. Ek het haar verseker daar is nie eers sprake daarvan nie,” het Ben gesê.

Ben het in ʼn roerende inskrywing op Facebook hulde gebring aan sy vrou en geskryf hoe Theresa vir so lank moontlik gewerk het om te help om Rachel se mediese onkoste te betaal. “Mag jy asb. die engele in die hemel vra om Rachel te help. Mag jy nou jou ewige rus vind by God. Dankie dat jy na Rachel gekyk het in die aande, doeke geruil het en haar gewas het.”

Theresa word Woensdag vanuit die kerkgebou van die NG Delmas Moedergemeente begrawe.

Enigiemand wat finansieel wil bydrae of Rachel se vordering dophou kan die Rachel Wepener Hulpfonds-blad op Facebook besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Genieve ·

Fase 4kanker dan wil ek huil..my Moeder fase4 keelkanker gehad waar dokters haar net 6 maande gegee het om te leef,maar sy kon net 3maande nog saam met ons gewees het. Baie sterkte vir die families weet hoe julle voel.

M Swanepoel ·

Ai so ‘n pragtige mens gewees, en die moeder se heengaan, hoe tragies is dit!

Linda Gouws ·

My hart gaan uit na julle en ek sal julle in my gebede hou. Sterkte!

Deloris ·

Ben en familie, ek bid dat ons Vader julle sal dra in hierdie ongelooflike swaar tye, moet nooit moed verloor nie, behou julle geloof.

Jane ·

Sjoe het nie woorde nie. BAIE STERKTE aan jou Ben en wat ‘n merkwaardige vrou was Theresa nie om tot teen die einde haar pragtige dogter te versorg nie. Ek hoop regtig julle word emosioneel en finansieel ondersteun om ook vir Rachel weer op die pad te kry na herstel. BAIE HARTSEER, my innige simpatie en baie sterkte op julle pad vorentoe.

GM ·

Wat ‘n pragtige meisie. So hartseer dat sy nou haar moeder ook moes verloor. Dis vreeslik dat daar so baie mense is wat hulp benodig om buitensporige mediese onkostes te dek. En hoeveel is daar nie waarvan ons glad nie eers weet nie. Ek weet mediese personeel kan nie verniet werk nie, en toerusting en medisyne is duur, maar jinne, kan daar nie ‘n plan gemaak word om pryse so laag as moontlik te hou nie? Elke middelman, en middelman van die middelman, en die se middelman, vat sy pond vleis. En dan kom VAT ook nog by. En so sterf duisende mense as gevolg van ‘n tekort aan geld. Dis wreed.

BOLANDER ·

My gebede is dat HY julle sal bystaan in hierdie moeilike tyd. En dat Rachel volkome sal herstel. Vertrou net op hom.

Alki ·

Liewe Heer, dra asb hierdie mense op U hande en hou hulle asb styf vas, en laat ek asb NOOIT weer oor iets kla nie

Pieter ·

lees die boek geskryf deur Ed Mcabe flood your body with oxigen

Biddend ·

Aai ons ken jul nie, maar bid vir jul.
Mag ons almal se gebede jul dra deur hierdie tyd, maar ook op jul toekomspad.
Baie Sterkte, soooo jammer oor jul verlies.

Marinda ·

Niks wat ons sê kan help of hulle verlies minder maak nie. Dis ñ groot slag vir pa en dogter. Sterkte.

Tanzie ·

Ek kan nie help om te huil wanneer ek na die meisie kyk nie. Na die fotos van wat was en wat nou is nie. My innige meegevoel aan die mense.

zunette du toit ·

Ben kyk mooi na jou vrou sy het jou in hierdie stadium van herstel asook hartseer oor haar ma baie nodig sterkte en voorspoed vir Rachel se herstel asook liefdevolle ondersteuning van jou.

$ ·

Zunette, Rachel is Ben se dogter; Theresa was sy vrou, sonder wie hy nou sy toekoms tegemoet moet gaan.

Sterkte Ben en Rachel, mag die Heilige Gees jul Trooster wees.

Gesiggie ·

Ek sit hier met trane en n knop in my keel… en vra Here hoekom, hoekom moet een gesin soveel hartseer ervaar, maar ons sal nie die antwoord weet, God het n plan met elkeen van ons in die Lewe… vir die Moeder wat na haar dogters moes omsien deur al die swaar tye, die Moeder wat nou n Engel van God geword het… ek kan net dink hoe erg dit vir die Pa moet wees, hy moes sy vrou se pyn ervaar, die seer van sy dogter sien elke dag… nou is Mamma nie meer daar, maar Glo net God sal oor jul waak,,, en dat die Engele van God Ben oor jou en Rachel sal waak, en dat sy vir jou n Blessing sal wees… so hartseer om te dink Mamma sal nie daar wees vir die dag as sy dalk eendag weer sal kan loop…. Sterkte aan jul… Mag als van nou af net die mooiste en beste vir jul wees..

Andrea ·

Dit is nou tragies! Mag die Here jul naby wees, en jou uitsonderlik versterk, Ben!

Leonie Spangenberg ·

Hierdie raak my hart! Dis sulke tye wat ek wens dat ek finansieel sterk genoeg was om ‘n verskil en so ‘n bietjie verligting in hierdie mense se lewe te bring. Ek en my gesin is ook al deur diep waters en ek weet gebede is nie altyd genoeg nie. God het ons op aarde geplaas om’n verskil te maak en mekaar in tye van nood by te staan . Daarom daag ek elkeen uit wat hierdie berig lees om ‘n bydrae te maak. Al is dit R10. Ek gaan… Gaan jy?

Drika Kruger ·

So jammer om te hoor wat gebeur het. Is julle bewus dat daar elektroniese spraakapparate beskikbaar is wat haar kommunikasie kan help en wat selfs met ‘n Afrikaanse stem praat? Ek is seker ons kommunikasiepatoloog sal kan raad gee en dat daar ‘n weg van finansiering sal kom. Kontak gerus op ons eposadres dan kyk ons waar ons kan ondersteun. Baie baie sterkte!!

Ben Wepener ·

Ek is Rachel se pa, dankie vir almal se gebede.
Volg gerus die “Rachel Wepener Hulpfonds ” FB blad…
Daar sal julle sien hoe Rachel vorder en watter toerusting al deur Delmas / Kemptonpark en Gymkana Gemeenskap gedoen was…

pamela ·

Ben, julle lewens storie het my so geraak. Niks wat ek of enige iemand kan se, kan enige pyn verlig nie. Het na die FB blad gegaan. Rachel het so ‘n sprankel in haar oe. Sy is regtig amazing, jy ook. So jammer vir die seer wat julle moet deurgaan.

Wonder ·

Mag julle die krag en insig kry, om alles te verwerk en nie moedeloos te raak nie.

Amanda ·

Is dit enigsins moontlik dat iemand my dalk kan uitwys waar ek die bank besonderhede kan kry vir ‘n donasie? Ek het gekyk of FB maar ek kry dit nie. Jammer as ek dit mis gekyk het en dankie by voorbaat.

BIANCA COX ·

Ek was saam haar in die Rehab. My gebede en gedagtes gaan saam haar am haar familie.

Rudi Breedt ·

Jammer om die nuus te hoor ou Ben. My gebede is met jou.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.