Tweede verdagte vas ná moord op skoolmeisie

Argieffoto

ʼn Tweede verdagte is Donderdag in hegtenis geneem in verband met die moord op ʼn 14-jarige meisie van Soweto in Gauteng.

Die man is vroegoggend in White City in Soweto vasgetrek.

Dit volg nadat die eerste verdagte reeds Dinsdag in hegtenis geneem is. Albei verdagtes sal na verwagting vandag in die Protea-landdroshof in Soweto verskyn.

Hulle word aangekla van die moord op die gr. 9-leerder aan die Aurora Girls High School. Haar liggaam is Vrydag in ʼn veld in die Emdeni-uitbreiding van Soweto gevind. Sy het die vorige dag verdwyn.

Maroela Media het vroeër berig die meisie het Donderdag na ʼn winkel in Dobsonville in Soweto gestap om goed te gaan koop. Sy het by haar terugkeer tuis besef sy het ʼn paar items vergeet. Die meisie het toe glo weer teen 17:00 se kant winkel toe gestap, maar nooit teruggekeer huis toe nie.

Haar familie het na haar begin soek, maar kon haar nie opspoor nie. Hulle het haar as vermis by die plaaslike polisiestasie aangemeld.

Haar liggaam is Vrydag gevind. Daar word in dié stadium vermoed dat sy boonop verkrag is.

Kapt. Kay Makhubele, woordvoerder van die polisie, het vroeër gesê die motief agter die moord is in dié stadium nog onbekend.

Lt.genl. Elias Mawela, die provinsiale kommissaris, het die ondersoekspan geloof vir hulle harde werk om die verdagtes so vinnig vas te trek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.