Tweede verdagte vas ná plaasaanval

Argieffoto: Reint Dykema

ʼn Tweede verdagte is in hegtenis geneem in verband met ʼn aanval in April 2016 op ʼn plaas in die Komga-gebied in die Oos-Kaap.

Kapt. Anelisa Feni, woordvoerder van die Valke, het gesê Sindile Zweni (55) is Maandag deur die Valke se eenheid vir ernstige georganiseerde misdaad in Worcester in hegtenis geneem. Hy het vandeesweek in die Worcester-landdroshof verskyn op aanklagte van gewapende roof met verswarende omstandighede, die onwettige besit van ʼn vuurwapen en dat hy homself as ʼn polisiebeampte voorgedoen het.

Die saak teen Zweni is uitgestel en hy sal Dinsdag weer in die hof verskyn.

Volgens Feni word daar beweer dat Zweni op 5 April 2016 een van vier gewapende mans was wat op ʼn plaas naby Komga toegeslaan het. Drie van dié mans was glo in polisieuniforms geklee.

“Die mans het in ʼn wit Toyota Fortuner gery wat blou polisieligte op gehad het. Hulle het toegang tot die plaas verkry deur voor te gee hulle ondersoek ʼn saak van verkragting waarby een van die plaaswerkers glo betrokke sou wees,” het sy gesê.

Volgens Feni het die mans na bewering ʼn vrou, die 49-jarige eienaar van die plaas, aangerand voordat hulle met ʼn onbevestigde bedrag kontant op die vlug geslaan het.

Thandolwethu Vakele (30) is verlede maand in Kaapstad in verband met die voorval in hegtenis geneem en het op 14 Augustus in die hof verskyn.

Die ander twee verdagtes is steeds op vrye voet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Christo ·

Dit sal baie help as die publiek weet hoe ‘n egte SAPD identifikasiekaart lyk. Die beste wat ek dit kan beskryf is dat dit dieselfde lyk soos ‘n SA kaart ID met die SAPD embleem. Dis elke persoon se reg om te vra dat enige wettoepassingsbeampte hom/haar te kan identifiseer. Indien u twyfel oor die egtheid daarvan kan u 10111 skakel en navraag doen dmv die magsnommer. Skryf die naam en van neer indien dit veilig en moontlik is. Indien u twyfel moet nie die beampte toegang gee tot u eiendom of perseel nie. Wees ten alle tye beleefd maar ferm sonder om aggresief te wees.

Toppie ·

Die probleem is dat id kaarte ook vervals word. As die kriminele toegang tot uniforms , blouligte en polisie vuurwapens het , is ID kaarte geen probleem

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.