Tweede verdagte vas oor polisieman se moord

(Foto: SA Polisie)

ʼn Tweede verdagte is in hegtenis geneem in verband met die moord op ʼn adjudant-offisier van die polisie.

Ao. Phiwayinkosi Magwaza (59) is op 27 Augustus doodgeskiet toe hy in sy huis gelê en slaap het. Sy dienspistool is tydens die moord gesteel. ʼn Saak van moord is by die Melmoth-polisiestasie aanhangig gemaak en die Valke is opdrag gegee om verder ondersoek in te stel.

Kapt. Simphiwe Mhlongo, woordvoerder van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke) het gesê die 42-jarige man is Donderdagoggend vroeg by Kwamashu-hostel in KwaZulu-Natal in hegtenis geneem deur die Valke se eenheid wat ernstige georganiseerde misdaad ondersoek, in samewerking met ʼn spesiale taakspan van die polisie. “Hy is na bewering betrap met die oorledene se 9 mm-pistool.”

Die man staan tereg op aanklag van die onwettige besit van ʼn vuurwapen en het in die Ntuzuma-landdroshof verskyn. Hy moet op 23 September weer in die hof verskyn.

Maroela Media het vroeër berig Magwaza se vrou, Sanelisiwe Mpungose (27) is op 9 September in hegtenis geneem in verband met haar rol in sy moord. Sy het op 11 September in die hof verskyn en sy bly in aanhouding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae