ʼn 75-jarige verdagte is Woensdag in die Giyani-omgewing in Limpopo in hegtenis geneem vir beweerde betrokkenheid by die diefstal van derduisende rande van die Covid-19-voordeel van die Werkloosheidversekeringsfonds (WVF).
Kapt. Matimba Maluleke, woordvoerder van die Valke, sê die verdagte het na bewering meer as R150 000 van die Mtititi Drop-in Centre se bankrekening onttrek om dit glo te probeer verberg van die ondersoek wat tans hieroor aan die gang is.
Die direkteur van dié sentrum, Hlamalani Dorris Mashimbye (47), is presies ʼn week gelede in hegtenis geneem nadat sy glo eise van R3,2 miljoen vir die spesiale Covid-19-toelae ingedien het.
Sy het dit glo tussen April en Augustus namens 242 voormalige werkers van die uitgebreide program vir openbare werke (EPWP) geëis.
Volgens die Valke is die werkers se dienste egter vóór die afsonderingstydperk beëindig. Die toelae het na bewering ook glad nie in die werkers se sakke beland nie.
Mashimbye het Maandag in die Malamulele-landdroshof op aanklag van bedrog verskyn. Sy sal na verwagting weer op 19 Oktober in die hof verskyn wanneer haar formele borgtogaansoek begin.
Die 75-jarige verdagte sal na verwagting Vrydag in dieselfde landdroshof verskyn.
Die Valke se ondersoek duur voort.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
4 Kommentare
Lyk of hulle nou mooi bymekaar gemaak word. Hoop net daar kom iets van.
Wys haar gesig!
Die covid help hulle mooi kruip lekker agter masker weg.
Verskoning, maar ek moes lag….. Kopdoek en al………