Tweede verdagte vas vir Oranjeville-aanval

Die ongelukstoneel buite Sasolburg. Foto: Verskaf

ʼn Tweede verdagte in die plaasaanval op Ronnie Brand van Oranjeville in die Vrystaat is die naweek aangekeer.

Konst. Josephine Rani, polisiewoordvoerder, het Maandag aan Maroela Media gesê die verdagte (32) is Vrydag in Deneysville, sowat 25 km van Oranjeville, in hegtenis geneem.

Maroela Media het vroeër berig Brand is ʼn week gelede op sy plaas naby die Jim Fouché-vakansieoord buite die dorp met ʼn moersleutel aangerand waarna twee verdagtes met sy selfoon en ander items in sy bakkie gevlug het.

Daar word in dié stadium beweer dat albei verdagtes kort ná die voorval in ʼn ongeluk met die gesteelde bakkie buite Sasolburg betrokke was. Een van die verdagtes is in die ongeluk dood en sy makker was sedertdien soek.

Volgens Rani het die tweede verdagte geen sigbare beserings in die ongeluk opgedoen nie. “Sy betrokkenheid [in die aanval], asook die bewering dat hy ook in die voertuig was wat omgeslaan het, vorm deel van die ondersoek,” het sy gesê.

Die man sal na verwagting binnekort in die Heilbron-landdroshof verskyn op aanklagte van huisroof, motordiefstal en aanranding.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Amelia ·

Ons het daar groot geword kon met oop deure slaap Baie stil maar lekker plekkie om te bly naby rivier Was skoon plek laerskool gewees was daar in skool Is skokkend om te weet daar boer aangeval Kan onthou paar jaar terug ook vrou daar in dorp self vermoor Sterkte aan almal daar

Sê maar net ·

Die wiel begin draai, die moordenaars en rowers en plunderaars is stadig maar seker besig om platgetrap te word. Ons Vader is goed, Hy voorsien en Hy sorg, die oordeel kom Hom alleenlik toe. Amen

Louis ·

Laat hom behoorlik ʼn les leer !
30 jaar en voor dit, Geen borg!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.