Tweede verdagte vas vir Rhodespark-aanval; 10 nog soek

Rhodespark in Kensington, Johannesburg (Foto:  ttruluck, panoramio.com)

Rhodespark in Kensington, Johannesburg (Foto: ttruluck, panoramio.com)

ʼn Tweede verdagte wat in hegtenis geneem is in verband met die skokvoorval waartydens twee paartjies op 17 Oktober in Rhodespark in Kensington in die ooste van Johannesburg aangeval is, sal Donderdag in die Johannesburg-landdroshof verskyn.

Lt.kol. Lungelo Dlamini, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê die 22-jarige man is Dinsdag in Yeoville vasgetrek. Aanklagte van moord, poging tot moord en verkragting is teen hom aanhangig gemaak.

Nog ʼn verdagte, Thabo Nkala (24), is op 30 Oktober in verband met die voorval in hegtenis geneem. Dlamini het gesê die polisie is nog op soek na tien ander verdagtes en nog inhegtenisnemings kan binnekort verwag word.

Die grusame aanval het wyd opslae gemaak. Die paartjies is net voor 19:00 deur 12 mans oorval toe hulle in die park gestap het. Die twee mans is deur die aanvallers vasgebind en in die dam gegooi. Polisieduikers het later hul liggame uit die water gehaal. Een vrou is deur ʼn aanvaller verkrag, terwyl die ander vrou daarin kon slaag om te vlug.

Lees alle vorige berigte oor die voorval op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Christo Pienaar ·

Geluk met die arrestasie vd verdagtes SAPD. Hoop die howe beloon julle vir julle toegewydheid. ‘The thin blue line’ word alhoe dunner – terwyl julle studente se snert moet uitsorteer ( regtig ‘n mors van tyd).

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.