Tweederdes van mynbouproduksie in April vir SA verlore

(Foto: pixabay)

Suid-Afrika se mynbouproduksie het in April met 65% gedaal weens die uitwerking van vlak 5 van die afsonderingstydperk, het Roger Baxter van die Mynbouraad (vroeër bekend as die Kamer van Mynwese) Vrydagoggend aan die parlement gesê.

Baxter en verskeie vakbonde het aan die parlementêre portefeuljekomitee oor minerale en energie verslag gelewer oor die uitwerking van die koronavirus op die mynbousektor.

Volgens Baxter volg die Mynbouraad ʼn beleid om lewens te red en inkomste te verseker. Hy meen die mynboubedryf doen baie meer as ander bedrywe om die gesondheid van werkers te probeer verseker deur onder meer die uitreik van stofmaskers wat tot ʼn derde sterker is as gewone gesigmaskers.

Die voorlopige syfers van die Mynbouraad dui daarop dat tot 5% van die land se mynwerkers die nuwe koronavirus gaan opdoen en daardie syfer kan vererger omdat mynwerkers so naby aan mekaar werk en woon.

Teen Vrydagoggend het 1 229 mynwerkers landwyd positief vir Covid-19 getoets van wie 458 mense reeds herstel het. Suid-Afrika se Covid-19-piek word in Julie verwag.

Die mynboubedryf kon vanaf 16 April teen 50%-kapasiteit werk, maar verskeie haakplekke is ondervind. Die ergste hiervan is vervoer van werkers terug na die myne, die uitbetaling van die Covid-19-TERS-toelaag deur die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) en mynwerkers wat die koronavirus onder lede het, maar nie simptome toon nie.

Tot dusver is siftingstoetse onder 260 000 mynwerkers gedoen en 14 000 is omvattend vir die virus getoets.

Die vakbond Uasa het gesê hy is tevrede met die myne waar sy lede werk. Asimptomatiese gevalle – waar mense siek word, maar geen simptome toon nie – is vir Uasa die grootste probleem. Dít, asook kwesbare werkers, soos diegene met onderliggende siektes of wat ouer as 60 is en dus verbied word om te werk. Die beginsel van geen werk, geen betaling geld in dié geval.

(Argieffoto: pixabay)

Voorts is hulle bekommerd oor die toekoms van myne wat slegs marginaal winsgewend is en werkverliese by sulke myne, spesifiek in die Klerksdorp-omgewing.

Die vakbond Solidariteit het gesê al doen baie mynhuise goeie werk, word talle kontrakteurs tans glad nie betaal nie.

Ondernemings wat stroomaf van myne in die produksieketting staan, moet volgens Solidariteit toegelaat word om ten volle te funksioneer sodat die mynbou op sy beurt volledig kan funksioneer.

Solidariteit stem saam oor die probleme met asimptomatiese mynwerkers en TERS-uitbetalings deur die WVF, asook die stigmatisering van mense wat die siekte het wat daartoe lei dat diegene wat die virus onder lede het, nie sommer diegene met wie hulle in aanraking gekom het, aan die owerhede bekend wil maak nie.

Solidariteit het uitgewys dat daar goeie nuus ook is. Die goudprys is hoog en daar is min Covid-19-gevalle in die Emalahleni/Kriel/Middelburg-gebied in Mpumalanga. Daar is ook min gevalle in die Noord-Kaap, met goeie mediese fasiliteite in die Kathu- en Postmasburg-mynbougebiede.

Die vakbond Amcu se grootste vrees is werkverliese, asook myne wat nie aan die teenvirus-vereistes voldoen nie.

Die Nasionale Unie van Mynwerkers (NUM) het spesifiek uitgelig dat afstandhandhawing tussen mynwerkers moeilik is om prakties toe te pas, onder meer in die hokke waarin mynwerkers ondergronds neergelaat word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kobus ·

Praat van die werkers wat naby mekaar werk. Gaan hulle nou net 2 op ‘n slag in die skag af?

J ·

Die militante vakbonde soos AMCU het reeds miljoene werkgeleenthede vernietig deur die werksplek te verpolitiseer, die werkgewer te TEISTER en onrealistiese hoë salarisse en byvoordele te eis.

Die werklose miljoene moet die vakbonde sluit alvorens hulle hul vooruitsig vir indiensname sal verbeter.

Die stertjie (vakbond) swaai die hond (werkgewer)!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.