Tweekoppige slang in KZN gevind

(Foto: Nick Evans, Facebook)

’n Slang met twee koppe wat onlangs in Ndwedwe, KwaZulu-Natal, gevang is, het inwoners letterlik twee keer laat kyk.

Dié tipe misvormde slange is uiters skaars en leef gewoonlik nie lank nie.

Slangvanger Nick Evans het op 19 Junie ’n oproep van ’n inwoner van Ndwedwe ontvang oor ’n suidelike bruin eiervreter met twee koppe wat hy in sy erf gevang het. ’n Eiervreter is oor die algemeen ’n baie skadelose slangspesie.

Evans het die seldsame verskynsel op sosiale media gedeel en dit het in ’n kort tyd wêreldwyd opslae gemaak.

Volgens Evans het die inwoner die slang in ’n bottel gesit en wou nie hê iemand moet die reptiel skade aandoen nie. Hy het Evans gevra om die slang te gaan haal en dit na ’n plek van veiligheid te neem.

“Dit was die eerste keer wat ek in my jare lange loopbaan as slangvanger ’n slang met twee koppe sien,” vertel Evans aan Maroela Media.

Volgens Evans was dit nog ’n jong slang van ongeveer 30 cm lank.

“Dit was nogal interessant om te sien hoe die slang beweeg het. Soms het die twee koppe in teenoorgestelde rigtings beweeg, ander kere het die een kop op die ander kop gerus.”

Die slang is tans in professionele sorg en volgens Evans is daar geen sin om die reptiel in die natuur vry te laat nie omdat dit nie lank in die natuur sal oorleef nie.

“Die slang kan skaars beweeg, en wanneer dit beweeg, beweeg dit ongelooflik stadig. Die slang is ’n maklike teiken vir roofdiere.”

Volgens die Amerikaanse nuuswebwerf Newsweek kom meerkoppigheid, bekend as polikefalie, meer algemeen by reptiele as by soogdiere voor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

LD ·

1 kop of 2 koppe, dit bly ‘n lelike ding (tong in die kies) . Gelukkig is dit ‘n onskadelike soort, dink nou as dit ‘n swart mamba was en “hulle” kry jou beet!

Pietman ·

Dis nog niks, daar sir ‘n helse lot tweegatjakkalse in die parlement

Suzette ·

Ek het nou lekker gelag – moet sê die regering is die eerste waaraan ek gedink het toe ek die tweekop slang sien.

William ·

Wonder wat sal gebeur as so ding 2 mense op een slag wil pik.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.