Die polisie in KwaZulu-Natal ondersoek die omstandighede rondom die verdrinking van ʼn tweejarige tweeling oor die naweek by hul ouerhuis in die Kloof-woongebied naby Durban.
Die voorval wat Saterdagmiddag plaasgevind het, is op kringtelevisiekameras vasgevang. Die beeldmateriaal wys glo hoe die seuntjies se oppasser hulle langer as ’n driekwartuur sonder toesig gelaat het voordat sy hulle eindelik in die swembad aangetref en te hulp gesnel het.
Die seuntjies het in dié tyd verbete aan die swembadsuier geklou voordat hulle eindelik verdrink het.
Ivan Ikes, die tweeling se oupa, sê in ’n inskrywing op Facebook dat Sebastian en Ethan se ouers hulle Saterdag in die oppasser se sorg gelaat toe hulle medelye met ’n ander familielid gaan betuig het.
Die oppasser het glo die betrokke middag siek gevoel en was in die badkamer toe die seuntjies in die swembad beland en verdrink het.
Volgens Ikes wys die beeldmateriaal hoe die seuntjies televisie kyk en die oppasser die trappe na die boonste verdieping van die huis opgaan. Die twee kinders staan dan op en vroetel aan die hek na die swembad voordat die hek eindelik oopgaan.
Een van die seuntjies val dan in die swembad voordat die ander een in die swembad spring om sy boetie te hulp te snel. “Na presies 48 minute word die oppasser vir die eerste keer weer gesien en probeer sy help,” skryf Ikes.
Maroela Media het vroeër berig paramedici van Rescue Care is die middag na die toneel ontbied. Paramedici het probeer om die seuntjies by te bring, maar was onsuksesvol. Albei is op die toneel dood verklaar.
Kol. Thembeka Mbele, woordvoerder van die polisie, sê ’n geregtelike doodsondersoek word gedoen.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
22 Kommentare
Ai dis bitter hartseer!
Hoe verskriklik tragies!!!!! in ‘n oogwink ai tog sterkte aan familie
Ek as mamma kan myself nie indink deur watter pein hierdie familie moet gaan nie. Mag die Here hulle vashou en vertroos in hierdie moeilike tyd. Saam in die lewe gekom, en saam die lewe verlaat, heeltemal te vroeg.
Dit is nou tragies verby. Sterkte aan die ouers, en hoop geregtigheid geskiet in die geval van die oppasser.
Mens kan jouself nie indink nie, baie tragies en hartverskerend….